Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
‘Diffit’ – bly op die voorvoet, want niemand kan jou skoene volstaan nie
Deur René van der Vyver
Onderwysers is die belangrikste hulpbron in ʼn kind se skoolloopbaan. Dit is alombekend dat mense tot op hul oudag besonderse onderwysers onthou – dié wat met opregte omgee vir kinders die spreekwoordelike vlerke gegee het om mee te vlieg. KI (kunsmatige intelligensie) sal nooit onderwysers se skoene kan volstaan nie, maar wat as dit onderwysers meer vlugvoetig kan maak?
Diffit is ʼn KI-onderwyshulpmiddel wat onderwysers help om leerinhoud vinnig en maklik aan te pas vir verskillende leerbehoeftes. Dit stel onderwysers in staat om differensiasie binne sekondes toe te pas deur materiaal outomaties te herskryf vir uiteenlopende leesvlakke en vermoëns. In plaas daarvan om ure lank verskillende weergawes van ʼn les voor te berei, kan ʼn onderwyser nou vinnig verseker dat elke leerder die kerninhoud op sy of haar eie vlak verstaan.
Deur ʼn profiel by https://web.diffit.me/ te skep, kan onderwysers enige bestaande bron – van artikels en PDF’s tot YouTube-video’s – inlees. Die platform omskep hierdie rou materiaal in volledige aktiwiteitspakkette. Dit sluit dikwels ʼn aangepaste leesstuk, ʼn woordelys met definisies en selfs kritiese dinkvrae in. As jy wonder hoe die tegniese kant werk, wys hierdie gids hoe om Diffit te gebruik.
Die platform bied ook die opsie om inhoud direk na Google Docs, Google Forms of skyfies uit te voer. Dit beteken die materiaal vloei naatloos in die stelsels in wat jy reeds daagliks gebruik. Dit is veral nuttig vir die skep van werkkaarte waar leerders wat ekstra ondersteuning benodig, spesifieke leidrade of vereenvoudigde sinskonstruksies kry sonder dat die res van die klas se werk onderbreek word.
Nog ʼn waardevolle funksie is die vermoë om teks na verskillende tale te vertaal of om dit binne ʼn spesifieke kurrikulumkonteks te plaas. Vir taalonderwysers is dit ʼn groot hulp om leesbegripstekste te genereer wat presies op die regte graadvlak getoets is. Dit gee jou as onderwyser die vryheid om op interaksie met jou leerders te fokus, terwyl die tegnologie die tydrowende administrasie hanteer.
Ons weet dat onderwysers begaafd is en daagliks emosionele intelligensie gebruik om leerders tot die beste van hul vermoë te ondersteun. Met Diffit kan hulle egter ook KI benut om leerders verder te help. Dit sal nooit die onderwyser kan vervang nie, maar met die gebruik van hierdie hulpmiddel kan onderwysers op nóg ʼn front een tree voor bly.
By Solidariteit se Onderwysernetwerk bly jy op die voorvoet – want niemand kan jou skoene volstaan nie. Bly op hoogte van die jongste nuus en tendense deur gereeld by die Onderwysernetwerkgroep op Solidariteit-aanlyn in te skakel!