loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
deurbraak-coca-cola-trek-posadvertensie-terug-na-solidariteit-intree

Foto Krediet: Coca-Cola | Facebook

DEURBRAAK: Coca-Cola trek posadvertensie terug ná Solidariteit intree

Coca-Cola het ʼn gewraakte rasadvertensie teruggetrek nadat Solidariteit regaksie teen die maatskappy geloods het.

Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit het daarna hierdie inskrywing op sy sosialemediabladsye gemaak.

Klik ook hier om Coca-Cola SA se posadvertensie te sien.

Klik hier om Solidariteit se aanmaning te lees.

Klik hier vir Coca-Cola se antwoord op die aanmaning.

In die posadvertensie vir ʼn internskap vir werklose jongmense het Coca-Cola ʼn vereiste gehad dat dit ʼn swart kandidaat moet wees.

Daar is geen morele regverdiging om werklose jongmense volgens ras te klassifiseer nie. Daar is ook geen verpligting op maatskappye om rasvereistes in advertensies te hê nie.

Inteendeel, dit is onwettig om raseksklusiewe advertensies te hê. Ras in advertensies is ʼn selfopgelegde plig van werkgewers wat moet stop. 

Solidariteit het onder andere begin met ʼn proses teen Coca-Cola by die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) waarvan die VSA ʼn ondertekenaar is.

Deel van die proses is om die maatskappy op terme te plaas. Coca-Cola het teruggeskryf en onderneem om die advertensies onmiddellik terug te trek en om met ʼn interne proses te begin om te verseker dat dit nie weer begin nie.

Intussen gaan Solidariteit voort met ʼn proses met Coca-Cola om te verseker dat rasuitsluitings nie vorentoe weer kop uitsteek nie.

Solidariteit gaan ook voort met sy veldtog teen rasvereistes in advertensies en Suid-Afrika se rasprogram in die algemeen. Ons het nog sowat 20 maatskappye geïdentifiseer met eksklusiewe rasvereistes en beplan om teen hulle op te tree.

Hierdie maatskappye tree nie net immoreel op nie, maar oortree ook verskeie wette en internasionale konvensies.

Dit is ook ʼn oortreding van die bepalings van die skikking tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering, onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), wat ook ʼn bevel van die hof is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel