loading
avatar
Artikels
14 uur gelede
transformasiefonds-erkenning-dat-seb-misluk

Foto Krediet: Prostock-studio

Transformasiefonds: Erkenning dat SEB misluk

Deur Nico Strydom

Die breër debat oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) het die afgelope tyd merkbaar verskerp, terwyl die regering se voorgestelde Transformasiefonds opnuut die vraag laat ontstaan het oor of dit ’n erkenning deur die regering is dat SEB misluk.

Parks Tau, minister van handel, nywerheid en mededinging, het in Januarie konsepwysigings aan die B-BBEE-kodes in die Staatskoerant gepubliseer wat stukrag gee aan die skep van ’n Transformasiefonds. Die publiek en belanghebbendes het tot einde Maart gehad om daarop kommentaar te lewer.

Die voorgestelde Transformasiefonds van R100 miljard het volgens Tau onder meer ten doel om aan swart sakeondernemings beter toegang tot finansiering te gee.

Daar word met dié fonds beoog om oor ’n tydperk van vyf jaar R20 miljard per jaar uit die private sektor te mobiliseer, onder meer deur die herskikking van bydraes wat tans onder die kodes vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BGSEB) vereis word.

Die Transformasiefonds is uit die staanspoor verwerp as ongrondwetlik en ʼn risiko vir grootskaalse korrupsie.

Die Transformasiefonds kom in ’n tyd waar daar al meer kritiek teen SEB is en oor of dit enigsins slaag in sy doel om ’n einde aan werkloosheid, armoede en ongelykheid te bring. Dit blyk eerder dat al die voorgenoemde vererger het, en dat daar slegs beperkte inklusiewe groei gelewer is terwyl dit terselfdertyd ’n klein elite groepie bevoordeel het.

Daar is toenemende kommer dat SEB, in sy bestaande formaat, eerder ekonomiese doeltreffendheid ondermyn deur administratiewe las te verhoog en belegging ontmoedig deur beleidsonsekerheid en regulatoriese rompslomp.

Die ekonoom Dawie Roodt is van mening dat die Transformasiefonds ’n einde aan SEB in sy huidige formaat sal bring. Hy meen maatskappye sal in die toekoms hul SEB-voldoening “koop” deur geld aan die Transformasiefonds te gee en dat dit ’n alternatief sal word vir huidige prosesse.

Solidariteit het vroeër vanjaar ʼn regsaanmaning aan die departement van handel, nywerheid en mededinging (DTIC) gestuur oor sy hantering van die Transformasiefonds wat in ’n “herontwerpte” formaat bekendgestel gaan word.

Volgens Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof by Solidariteit, is daar wesenlike teenstrydighede tussen die departement se vorige antwoorde op Solidariteit se aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA), en die inligting wat tans in die openbare domein sirkuleer.

Solidariteit het reeds in 2025 formeel ingevolge PAIA toegang versoek tot dokumentasie wat onder meer die koste, haalbaarheid, bestuursraamwerke en finansiële implikasies van dié fonds sou aantoon.

Die departement het egter aangevoer dat sodanige rekords nie bestaan nie, of dat dit deel vorm van ’n voortgesette beleidsproses.

“Hierdie lyk en ruik soos nog een van die kaderregering se plunderfondse. Daar is geen rede waarom ons nou skielik van die regering moet verwag om die eerlike of die wettige ding te doen in die bestuur van die fonds nie.”

Solidariteit het die departement formeel versoek om sonder verwyl alle dokumentasie en inligting rakende die herontwerpte Transformasiefonds aan die vakbond te verskaf, en om nie met implementering van die fonds voort te gaan totdat hierdie inligting beskikbaar gestel is nie.

“Solidariteit sal nie toekyk hoe miljarde rande se openbare fondse sonder deursigtigheid, behoorlike toesig en wetlike nakoming bestee word nie – veral nie deur ʼn regering met ʼn swak reputasie met wanbestuur en korrupsie nie.”

SEB is ook een van die eise wat die administrasie van pres. Donald Trump van Amerika aan Suid-Afrika gestel het rakende die diplomatieke verhouding en handelsbetrekkinge tussen die twee lande.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê die vakbond gaan sy veldtog teen rasmalheid verskerp.

“Die doel is die einde van rassewette. Dit gaan insluit hofsake, internasionale klagtes, buitelandse druk, gesprekke met die regering en politieke partye, navorsingsverslae en meer. Ons moet net nooit ophou nie. Dit gaan ons grootste aanslag nog wees teen rassewette.”

Solidariteit het reeds ʼn verslag aan die kantoor van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, oorhandig waarin die verwoestende impak van Suid-Afrika se rassebeleid op die land en sy mense duidelik uiteengesit word.

In Solidariteit se verslag word die impak op Suid-Afrika duidelik uiteengesit en die koste van nakoming van BGSEB word tans bereken as tussen R145 en R290 miljard per jaar of tussen 2% en 4% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel