loading
avatar
Artikels
7 uur gelede
solidariteit-netwerkgeleentheid-verandering-is-konstant-reaksies-is-nie

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit-netwerkgeleentheid: ‘Verandering is konstant. Reaksies is nie.’

Deur Kyla-Ann du Toit

“Verandering in die werkplek misluk selde as gevolg van strategie. Dit misluk meestal as gevolg van mense.” Hierdie tema het sentraal gestaan tydens Solidariteit se netwerkgeleentheid wat op 17 April 2026 deur Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling aangebied is.

“Die sessie was vreeslik insiggewend. Ons het nie net oor ons eie denkwyse geleer nie, maar ook oor die impak van verandering op ander mense in ʼn span. Ek sien daarna uit om dit wat ek vanoggend geleer het self in die praktyk toe te pas,” sê Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling.

Salomien Boshoff, vakhoof in Ondernemingsbestuur aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, was die gasspreker. Sy het tydens haar sessie gefokus op die menslike dimensie van verandering en hoe verskillende persoonlikheidstipes dit instinktief beleef, verwerk en daarop reageer. Die sessie was gegrond op die raamwerk wat deur die Nederlandse akademici Léon de Caluwé en Hans Vermaak ontwikkel is, bekend as die “vyf kleure van verandering”.

Hierdie model lig vyf verskillende denkwyses uit: blou-denkers fokus op gestruktureerde beplanning en logiese implementering; geel-denkers beskou verandering as ʼn proses van onderhandeling en samewerking; rooi-denkers plaas klem op mense, motivering en spanwerk; groen-denkers verbind verandering met leer en ontwikkeling; en wit-denkers beskou verandering as ʼn deurlopende proses wat nie beheer kan word nie, maar wel ondersteun kan word.

Dit was ʼn interaktiewe en praktiese netwerkgeleentheid. Gaste het vooraf ʼn toets voltooi om te bepaal watter “kleur” denker hulle is. Tydens die sessie is deelnemers in groepe verdeel, met elke persoon wat ʼn spesifieke “kleur” (of denkwyse) toegeken is. Hulle moes toe vanuit daardie perspektief ʼn vergaderingscenario benader, verduidelik hoe hulle verandering binne ʼn span ervaar en waarom hulle op ʼn sekere manier daaroor dink en redeneer.

Daarna is gaste volgens hul onderskeie kleurgroepe saamgevoeg om hul insigte te verdiep, waarna elke groep terugvoer aan die groter gehoor gegee het. Hierdie proses het deelnemers die geleentheid gebied om eerstehands te ervaar hoe uiteenlopend mense oor dieselfde uitdaging kan dink en waarom dit dikwels tot misverstande of weerstand in organisasies lei.

Volgens Boshoff is sulke gesprekke noodsaaklik in vandag se werksomgewing. “Dit is belangrik om hierdie soort sessies by te woon, want dit gee vir jou die geleentheid om met mense wat soos jy dink en in soortgelyke scenario’s as jy is, te netwerk.”

Sy het ook die waarde van voortgesette leer beklemtoon. “As ʼn ‘groen’-denker hou ek baie van leer. Die oomblik as ek iets nuut geleer het, wil ek dit met ander mense deel. Ek wil altyd daardie ‘aha’-oomblikke met mense deel.”

Hierdie praktiese benadering sluit direk aan by Solidariteit se breër aanbod. Solidariteit-aanlyn bied nie net ʼn ruimte waar werksoekers en werkgewers bymekaar kan kom nie, maar dra ook by tot die ontwikkeling van gesonde, volhoubare werkplekke deur vir gebruikers gratis toegang te gee tot onder meer kursusse, beroepsnetwerkgroepe sowel as maandelikse aanlyn webinare wat op spesifieke beroepe en temas fokus.

Thackwray beklemtoon die waarde van hierdie soort netwerkgeleentheid en waarom beide werkgewers en werknemers dit moet bywoon: “Tans bevind ons onsself in ʼn fase van konstante verandering. Dit is dus belangrik vir organisasies om die verskillende denkwyses van hul personeel te verstaan. Want as jy dit verstaan, kan jy die veranderingsproses baie beter bestuur en groter inkoop van jou personeel verseker.”

Met ʼn tema wat direk spreek tot die werklikhede van moderne werkplekke, het die geleentheid waardevolle insigte gebied vir leiers en spanne wat verandering meer doelgerig én mensgerig wil aanpak. Dit het vir deelnemers ook die geleentheid gebied om met mekaar te skakel en ervarings te deel, met ʼn sterk fokus op beide leer en netwerkvorming.

Moenie die volgende netwerkgeleentheid misloop nie! Registreer vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en bly op hoogte van die jongste nuus en toekomstige netwerkgeleenthede in jou beroep.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel