loading
avatar
Artikels
19 uur gelede
afleggingsbloedbad-verslag-wys-duisende-suid-afrikaners-verloor-daagliks-werk

Foto Krediet: Solidariteit

Afleggingsbloedbad: Verslag wys duisende Suid-Afrikaners verloor daagliks werk

Deur Kyla-Ann du Toit

Die regering kyk toe terwyl die ekonomie bloei.Dít is die werklikheid wat tans in Suid-Afrika heers namate duisende Suid-Afrikaners tans hul werk verloor – en die getal groei by die dag.

Volgens die jongste verslag deur die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE) verloor sowat 1 000 Suid-Afrikaners daagliks hul werk. Meer as 12 miljoen mense soek tans werk en kan eenvoudig nie werk kry nie.

Terselfdertyd het groot maatskappye soos ArcelorMittal, Goodyear, Glencore, Ford, Assmang en Samancor van hul aanlegte die afgelope paar maande gesluit en duisende afleggings aangekondig, en dit is maar enkele voorbeelde. Die frase “ʼn bloedbad van werkverlies in Suid-Afrika” was selde al so gepas soos nou.

Die regering sit hande gevou

Agter elke werkplek wat sy deure sluit, is gesinne wat hul inkomste verloor. Waar die regering behoort in te gryp om gewone Suid-Afrikaners se werke te beskerm, sit hy hande gevou.

Volgens Statistieke Suid-Afrika het die land se werkloosheidskoers in 2025 tot 33,2% gestyg wat beteken meer as 8,4 miljoen mense sit tans sonder werk. Onder jong mense is die syfer verpletterend: 46% van Suid-Afrikaners tussen die ouderdom van 15 en 34 jaar is werkloos.

Die CDE-verslag wys op ʼn reeks sistemiese mislukkings wat ekonomiese groei – en daarmee saam werkskepping – verstik het. Dit sluit in staatsbeheerde ondernemings soos Eskom en Transnet wat in duie stort, ʼn groeiende fiskale krisis, wydverspreide korrupsie, munisipale verval en swak deurdagte en geïmplementeerde ekonomiese transformasie- en nywerheidsbeleide.

Willie Venter, adjunkhoofsekretaris by Solidariteit, sê die gevolge van die regering se gebrek aan optrede is rampspoedig. “Sonder daadwerklike en gekoördineerde optrede gaan die maatskaplike en ekonomiese koste van hierdie afleggings buite beheer eskaleer – dit bedreig nie net poste nie, maar Suid-Afrika se hele industriële toekoms.

“Die regering se apatiese houding is kommerwekkend. Dit behoort vir hulle ʼn groot waarskuwing te wees dat ons werkloosheidsyfer nie net hoog is nie, maar nóg meer astronomies kan word,” sê hy.

Ons sien geen plan van die regering om hierdie ramp te verhoed nie. Waar beleidsverandering, herstel van infrastruktuur en ekonomiese leierskap dringend nodig is, sien ons slegs politieke rookskerms en leë beloftes. Intussen verval die land dieper in ’n moeras van armoede en wanhoop.

Solidariteit wil lede bystaan

Te midde van hierdie chaos staan Solidariteit egter as ʼn beskermer tussen gewone mense en ʼn onverskillige staat. Solidariteit kan nie die regering se werk doen nie, maar hy het wel ʼn Beskermingsplan saamgestel wat ʼn konkrete strategie is om lede se werk, inkomste en toekoms te beskerm.

Die plan fokus op vier fronte:

  1. Beskerming teen diskriminasie deur regsaksies teen onregverdige, rasgebaseerde beleide.
  2. Beskerming van opleiding deur Afrikaanse beroepsopleiding en vaardigheidsontwikkeling uit te bou.
  3. Beskerming van inkomste deur lede te ondersteun met regshulp en finansiële ondersteuning wanneer hulle hul werk verloor.
  4. Beskerming van internasionale verhoudinge om toegang tot handel, tegnologie en werksgeleenthede te behou.

Lees hier meer oor die Beskermingsplan.

Suid-Afrikaners verdien beter as ʼn staat wat net sit en toekyk hoe hulle werk, inkomste en waardigheid bedreig word. Die werklikheid is dat die regering kán optree, maar eenvoudig nie wíl nie. Daarom tree Solidariteit vir sy lede in, want ons weet: jou werk is jou toekoms.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel