loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
nuwe-ouerskapverlof-wette-wat-beteken-dit-vir-jou

Foto Krediet: Pexels

Nuwe ouerskapverlof-wette: Wat beteken dit vir jou?

Deur Leré Nel

Die Konstitusionele Hof het onlangs beslis dat Suid-Afrika se bestaande ouerskapverlof-wetgewing onregverdig was. Die wet het, volgens die hof, tussen moeders, vaders, aanneemouers en surrogaatouers gediskrimineer.

Die hof het nou ʼn inlesing ingestel wat onmiddellik geld, totdat die parlement die wet formeel bekragtig.

Wat verander nou?

Die nuwe uitleg bepaal die volgende:

  • As net een ouer werk, kry daardie ouer vier maande se ouerskapverlof.
  • As beide ouers werk, deel hulle vier maande en tien dae tussen hulle.


Hulle kan dit:

  • opeenvolgend neem (een ná die ander); of
  • kombineer – solank elke ouer húl deel in een aaneenlopende tydperk neem.

As die ouers nie oor die hoeveelheid verlof wat elkeen neem kan besluit nie, moet die werkgewer dit so naby as moontlik aan ʼn 50/50-verdeling deel.

Daarmee saam is:

  • die vorige bepaling dat aannemingsverlof slegs geld as die kind jonger as twee jaar is, nou ongeldig;
  • die regulasie wat bepaal dat geen persoon vir ses weke ná geboorte mag werk nie (tensy ʼn dokter verklaar dat dit veilig is) nog van krag.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is hierdie nuwe regulasies ʼn groot stap in die rigting van gelykheid, aangesien dit ouers in unieke omstandighede (soos aanneemouers) ook die geleentheid bied om ʼn band met hul kinders te vorm. Hy sê:

Vir die meeste mense in die land sal dinge waarskynlik steeds dieselfde bly. Hierdie is nie so ʼn drastiese verandering soos wat baie artikels in die media dit laat klink nie. Ek voorsien nie dat dit algemene praktyk sal word vir mans om vier maande af te neem wanneer dit hul vrou se verlof sal verminder nie. Dit is ook aansienlik minder as in baie ander lande, waar moeders soms meer as ʼn jaar kry en vaders enigiets tussen ses weke en ʼn jaar.

Wat beteken dit vir werkgewers?

Die nuwe reëls tree onmiddellik in werking. Werkgewers moet dus dadelik hul beleide en kontrakte aanpas.

  • Herskryf die ouerskapverlofparagraaf in jou werknemershandleiding om die nuwe “vier maande en tien dae”-struktuur te weerspieël.
  • Hou in gedagte: die WVF (Werkloosheidsversekeringsfonds) is nog nie aangepas nie, aangesien die staat dit eers moet opdateer.

Werkgewers moet verder:

  • ʼn vorm of proses hê waar ouers vooraf kan aandui hoe hulle die verlof gaan verdeel (veral in gevalle van aanneming of surrogaatskap);
  • die 50/50-reël toepas as ouers nie op ʼn plan kan ooreenkom nie; en
  • bestuurders en menslikehulpbronpersoneel oplei om nie meer net moeders as die “hoofversorger” te sien nie – vaders en ander ouers het nou dieselfde regte.

Wat beteken dit vir werknemers?

Vir alle ouers – moeders, vaders, aanneem- en surrogaatouers – beteken dit dat hulle nou gelyke toegang tot ouerskapverlof het. Ouers kan self besluit wie watter deel van die verlof neem. As ʼn ouer die enigste werkende ouer is, kan hulle tot vier maande ouerskapverlof neem om vir hul baba te sorg.

Du Buisson meen dat dit vir werknemers nie ʼn wesenlike impak sal hê nie.

“Die meeste gesinne sien steeds ouerskapsrolle soos in die verlede, en moeders sal waarskynlik steeds die grootste deel van die verlof geniet. My verwagting is daarom dat die vier maande en tien dae oor die algemeen steeds soos tans opgedeel sal word – vier maande vir die moeder en tien dae vir die vader. In gesinne waar die moeder die broodwinner of ankerverdiener is, sal hulle nou meer buigsaamheid geniet.”

Onthou wel:
Die WVF-uitbetaling (die geld wat jy van die staat ontvang terwyl jy met ouerskapverlof is) het nog nie verander nie. Ouers sal steeds volgens die huidige WVF-reëls aansoek moet doen totdat die regering dit opdateer.

“Op die korttermyn mag die WVF nou onder druk kom, maar ek voorsien ook nie dat daar langtermynprobleme sal wees nie,” sê Du Buisson. “Hulle is goed befonds en gaan in die meeste gevalle nie nou meer verlof hoef uit te betaal as in die verlede nie.”

Soos altyd staan Solidariteit gereed om enige werkplekverwante navrae van sy lede te hanteer en sy lede in die werkplek te beskerm. Indien jy as lid enige vrae het, kontak ons gerus by diens@solidariteit.co.za of skakel 012 644 4300.

Wat dink jy van hierdie nuwe regulasies? Los jou kommentaar in die kommentaarspasie!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel