
Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
AfriForum Sakenetwerk en Solidariteit gesels saam met Johan Steyn oor KI se toekoms in die werkplek!
Deur Ané Janse van Rensburg
Tegnologie verander teen snelle pas en min tegnologieë het só ’n groot impak op die manier waarop ons werk en leef as kunsmatige intelligensie (KI). Dit het ons linker- en regterhand geword, en vir sommiges, doen dit sommer die dinkwerk ook! Johan Steyn, een van Suid-Afrika se voorste denkleiers in KI, kom gesels in ʼn webinaar aangebied deur AfriForum Sakenetwerk en Solidariteit oor hoe jy KI kan gebruik, om vir jou te werk.
Hierdie webinaar word op 8 September 2025 om 19 :00 regstreeks op Solidariteit se platform uitgesaai. Indien jy nog nie ʼn gratis profiel het nie, skep hom hier.
Wie is Johan Steyn?
Johan Steyn is ’n internasionaal erkende deskundige op die gebied van KI en digitale transformasie. Hy is ’n gesiene skrywer, akademikus en ʼn gereelde spreker op plaaslike en internasionale verhoë. Sy bydraes strek oor verskeie platforms – van akademiese artikels tot hoofartikels in publikasies soos Business Day en News24.
In 2019 is hy deur die Britse Wealth & Finance Magazine aangewys as die Beste KI- en Robotika-bestuurskonsultant. Johan dien ook as KI-ambassadeur vir Swiss Cognitive en het waardevolle ervaring opgedoen by maatskappye soos PwC en Accenture. Sy kliëntelys sluit ondermeer groot rolspelers soos Absa, Nedbank, Microsoft en Samsung in.
Verder het hy ’n sterk akademiese voetspoor. Hy is betrokke by verskeie universiteite, insluitend die Universiteit Stellenbosch en Woxsen Universiteit in Indië. Johan se navorsing en publikasies fokus veral op die impak van tegnologie op mense, organisasies en die samelewing- ’n tema wat sentraal staan tot die gesprek wat hy tydens die webinaar gaan voer.
Volgens Steyn is kunsmatige intelligensie nie meer bloot ’n toekomsvisie nie; dit is ’n werklikheid wat reeds ons werkplek en besighede hervorm. Van outomatisering en data-analise tot kliëntediens en produkontwikkeling, KI raak byna elke bedryf.
Hoekom is hierdie webinaar ʼn “moet”?
Die goue reël in vandag se werkplek is eenvoudig: pas aan of hou verby. Met waardevolle hulpbronne soos hierdie webinaar, is die nuutste tegnologiese tendense op jou voorstoep! Deur Steyn se ervaring en kundigheid te benut, kry deelnemers nie net ’n teoretiese oorsig nie, maar ook praktiese riglyne oor hoe om voordeel uit KI te trek.
Die webinaar sal onder meer fokus op:
- • hoe KI die aard van werk verander;
- • watter vaardighede en benaderings in die toekoms van belang sal wees;
- • praktiese voorbeelde van KI in aksie binne die sakewêreld; en
- • die etiese en menslike implikasies van KI.
Hierdie gratis webinaar bied aan elke deelnemer die kans om insig te kry in van die mees invloedryke tegnologieë van ons tyd. Deur jou sitplek te bespreek, verseker jy dat jy nie agterbly in ’n wêreld waar KI toenemend die pas aangee nie. Bespreek jou plek hier en registreer jou gratis Solidariteit-profiel om toegang tot dié sessie te kry