loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
race-to-the-bottom-sa-se-rasmalheid-in-dokumenter-ontbloot

Foto Krediet: Solidariteit

RACE to the bottom: SA se rasmalheid in dokumentêr ontbloot

Pieter Jordaan

Rassewette in Suid-Afrika is in 2025 behoorlik op die voorgrond en binnekort is dit in die kollig wanneer Solidariteit se nuutste dokumentêr, RACE to the bottom, op 10 November die lig sien.

Die bekendstelling van die RACE to the bottom-dokumentêr, wat gratis aanlyn te siene sal wees en versprei sal word, gebeur juis in die maand waar die wêreld se oë op Suid-Afrika rus as gasheerland van die G20-beraad.

Hierdie produksie beklemtoon die ernstige gevolge wat rassewette vir alle Suid-Afrikaners inhou en hoe dit nie slegs op grond van velkleur teen minderhede diskrimineer nie, maar ook ʼn beduidende negatiewe impak op die land se ekonomie het.

Regeringsbeleide wat beloof het om gelykheid, regstelling of bemagtiging vir swart gemeenskappe te bring, het dit allermins gedoen. Pleks daarvan is gemeenskappe inteendeel van mekaar vervreem en is ʼn netwerk van politieke elites skatryk gemaak terwyl armoede en werkloosheid toegeneem het.

Hoe duideliker dit geword het dat hierdie beleide inderdaad sleg is vir Suid-Afrika, hoe meer het die ANC dit verskerp onder die dekmantel van demografiese verteenwoordiging, en deur die gebruik van rastelkaarte en kwotas in die werkplek en selfs in sport.

Deelnemers aan die dokumentêr sluit in dr. Dirk Hermann, Flip Buys, Moeletsi Mbeki en Martin van Staden en sommige van hulle beklemtoon hoe die veronderstelde goeie bedoelings met hierdie rasbeleide niks beteken wanneer jy na die uitkomste daarvan kyk nie.

Daar word gekyk na die verval van die staatsdiens met eens trotse instellings wat nou slegs ʼn skaduwee van hul ou self is soos vaardige en deurwinterde werknemers weens rigiede rassebeleide en hulle velkleur, verdryf is.

Intussen is buitelandse beleggers en handelsvennote vervreem en het ʼn handjievol kaders hierdie obsessie met ras gebruik om hulleself te verryk.

Hierdie dokumentêr vertel hoe rassewette dus ʼn voertuig vir korrupsie en wanbestuur geword het. Staatskaping het sy kloue ingeslaan terwyl groot dele van die internasionale gemeenskap nog onder die indruk was dat die reënboogwonderwerk van 1994 steeds van krag is.

In 2025 was daar egter ʼn wending. Uitsprake van die Amerikaanse president, Donald Trump, het die stand van sake in Suid-Afrika opnuut op die wêreldwye agenda geplaas.

Baie is gesê oor Suid-Afrika se verwronge buitelandse beleide en ongure vriendskappe met onder meer Iran en Hamas. Maar sy binnelandse beleid en rassewetgewing was meteens ook onder die loep.

Die tyd was reg om met hierdie dokumentêr die ware gesig van rassewette ook aan ʼn internasionale gehoor bekend te stel.

Net soos vir die G20-beraadgangers, is die boodskap aan die buiteland dat hierdie pragtige plek, wat na 1994 as ʼn wonderwerk van eenheid uitgebeeld is, in werklikheid al verder deur ʼn regering se rasmalheid verdeel is.

Wanneer jy eers die werklikheid hoor, raak dit duidelik dat rassewette ʼn klad op die naam van Suid-Afrika geword het, en waarom dit van alle kante af beveg moet word voor dit Suid-Afrika finaal op sy knieë dwing.

RACE to the bottom word op 10 November 2025 bekendgestel.

Klik hier om na die lokprent te kyk.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel