loading
avatar
Mediaverklarings
12 uur gelede
solidariteit-verslag-wys-gautengse-skole-staar-finansiele-ramp-in-die-gesig

Foto Krediet: Okay Deer

Solidariteit-verslag wys Gautengse skole staar finansiële ramp in die gesig ná drastiese besnoeiings

’n Nuwe verslag wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) vrygestel is, het erg kommerwekkende bevindings oor die toestand van Gautengse skole se befondsing en posvoorsiening vir 2026 ontbloot.

Die verslag toon die toewysing per leerder vir kwintiel 5-skole het van sowat R900 tot R315 gedaal – ’n afname van 65% wat na raming meer as 750 skole raak.

Volgens die verslag is kennisgewing oor hierdie besnoeiing deur die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) eers ná die begrotingsperdatum van 30 September 2025 uitgereik, wat beplanning en begrotingsprosesse by skole ernstig ontwrig het.

Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die SNI, sê die verslag kon steun op data vanuit ʼn opname van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wat op ’n onderwysstelsel in nood dui.

“Skole dui aan slegs noodinstandhoudingswerk kan gedoen word en groter herstelwerk of verbeterings word uitgestel. Infrastruktuur begin agteruitgaan, met kommentaar wat verwys na geboue, rioolstelsels en paaie wat nie meer herstel kan word nie. Die algemene indruk is dat die verlaging in toewysings sowel fisieke instandhouding as personeelvolhoubaarheid ernstig benadeel,” sê Prinsloo.

Uit die verslag blyk dit 67% van skole het vir 2026 ’n swakker toewysing ontvang, en ongeveer 80% sukkel om vir basiese dienste soos water en elektrisiteit te betaal. Verskeie skole meld hul fondse is slegs genoeg om hulle uitgawes vir ’n paar maande nog te kan dek.

Volgens Prinsloo is talle skole tussen een en agt poste kwyt, wat groter klasgroottes en druk op roosters tot gevolg het.

“In sommige gevalle het leerder-opvoeder-verhoudings tot bo 1:40 gestyg. Dit plaas ’n geweldige las op onderwysers en het ’n duidelike negatiewe impak op die gehalte van leer,” waarsku sy.

Daar is ook wydverspreide verwarring en frustrasie oor die laat en gebrekkige kommunikasie van die GDO.

“Die patroon van laat kennisgewings, ontoereikende terugbetalings en administratiewe onreëlmatigheid het tot wye wantroue in die toewysingstelsel gelei,” sê Prinsloo.

Volgens haar dui die terugvoer op ’n finansiële stelsel wat nie tred hou met groeiende koste en leerdergetalle nie, en waarin die las toenemend na ouergemeenskappe verskuif. In die verslag beskryf skole die huidige situasie as onvolhoubaar en waarsku: sonder onmiddellike ingryping, is die kwaliteit van onderrig in Gauteng ernstig in gevaar.

Volgens Prinsloo dui die verslag se bevindings op ʼn dringende behoefte aan herbesinning oor befondsing, kommunikasie en samewerking tussen skole en owerhede.

“Op grond van die data stel ons verskeie aanbevelings voor om die finansiële en administratiewe uitdagings in openbare onderwys aan te spreek,” sê sy.

Hierdie aanbevelings sluit onder meer in die dringende hervatting van konsultasieprosesse met skoolbeheerliggame om die 65%-besnoeiing in subsidies te hersien, asook die tydige kommunikasie van toewysings en posvoorsienings aan skole.

Daarbenewens behoort die Departement van Basiese Onderwys die huidige nasionale norme en standaarde vir skoolbefondsing te hersien, aangesien die bestaande kwintielklassifikasie dikwels nie die werklike sosio-ekonomiese omstandighede weerspieël nie.

Prinsloo beklemtoon verder: “ ʼn Versnelde en deursigtige uitbetalingskema vir kwytskeldings is noodsaaklik om skole se kontantvloei te stabiliseer en begrotings meer betroubaar te beplan.”

Sien onderhoud met Prinsloo oor die verslag hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel