loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
onderwysers-verbeter-jou-oorredingsvermoe

Foto Krediet: OkayDeer

Onderwysers: Verbeter jou oorredingsvermoë

Deur dr. Eugene Brink

In die meeste professies was oorreding nog altyd onontbeerlik en dit sal vir seker in die toekoms ʼn kritieke vaardigheid bly.

Die meeste van ons werk in spanne of minstens langs medewerkers wie se hulp of gunste ons dikwels nodig het. Oorreding is selfs belangriker in die onderwysomgewing waar leerders dikwels rebels is of moeilik is om te oorreed. Dit is hoekom Daniel Willingham die definiërende frase “onderwys is ʼn daad van oorreding” geskep het”.

Elke les is ʼn onderwyser se poging om studente te oorreed. Die doel van ʼn onderwyser se les is om sy of haar studente te pamperlang en om hulle by die voortbring van kennis te betrek.

Nou hoe doen jy dit?

Die eerste stap is om jou studente se respek te wen. “As jy jou studente se respek het, sal hulle probeer aandag gee om jou tevrede te stel en omdat hulle jou vertrou,” beweer Willingham verder.

Jy kan dit doen deur hulle eerste te respekteer en jou belangstelling in hulle en hul individuele vermoëns en voorliefdes te toon. Jou belangstelling en hulp sal waarskynlik geresiproseer word.

Tweedens, gebruik emosie om ʼn verdere beroep op hul harte te maak. Maar dit moet behoorlik en versigtig gedoen word. “Aan die begin van jou skooljaar kan jy tot op ʼn punt emosie gebruik – deur die ouderdomsgroep en agtergronde van jou studente te veralgemeen – maar moet dit nie oordoen nie. Tieners hou byvoorbeeld daarvan om onafhanklik te voel, so jy kan dit aanroer as jy hulle aan jou onderrigstyl bekend stel (byvoorbeeld, laat hulle weet dat dit hulle keuse is wanneer hulle badkamer toe wil gaan, eerder as om hand op te steek),” sê Edmond Otis, ʼn motiveringsdeskundige. “Maar moenie emosies te veel gebruik voordat jy elkeen van jou studente individueel ken nie. Op dié manier kan jy op ʼn unieke wyse met elkeen van hulle konnekteer.”

Derdens, wees sommer net gaaf en kweek konsensus. Mense is geneigd om mense van wie hulle hou te glo en met hulle te konnekteer. Vir sover dit onderrig aangaan, lig ooreenkomste tussen jou eie kinderervarings en dié van jou studente uit as die geleentheid hom voordoen. As jou studente byvoorbeeld ʼn sekere gier aanhang, vertel vir hulle van die goed waarvan mense gehou het toe jy op skool was.

Om konsensus te bewerkstellig, beteken dat die regte metodes en hul voordele beklemtoon moet word. Wanneer terugvoer gegee word oor take, toetse en eksamens, beklemtoon dat die grootste deel van die klas die regte tegnieke en formules gebruik het om hoë punte te behaal. Diegene wat dit nie gedoen het nie sal gou dieselfde doen omdat hulle sien dat dit hul klasmaats en eweknieë bevoordeel.

Laastens, logika en kompromisse is uiters bruikbaar. ”Selfs kinders hou van data. Dink aan die klein kindjie wat die hele tyd vra hoekom. Hoewel jy hom nooit werklik kan maak ophou hoekom vra nie, kan jy hom soliede inligting (en meer redes om ander vrae te vra!) met data gee. Dit is weer uiters doeltreffend vir ouer studente. Jonger studente is geneigd om alles te glo wat hul onderwyser sê,” sê Otis.

“Tieners is bietjie meer huiwerig. Maar dit is wat mens wil hê – ʼn student wat self wil leer en nie bloot inligting aanvaar want ‘Ek sê so’ nie. So, jy verskaf statistiek en data aan jou studente (of laat hulle dit self ontdek) ten einde hulle te oorreed om te glo wat jy sê.”

Hy sê ʼn kompromis hoef nie ʼn ontwykingsaksie te wees nie, maar moet versigtig benader word. “Wanneer jy ʼn kompromis aangaan, gee jy die ander persoon iets wat hy wil hê in ruil vir wat jy wil hê. In die klasopset is jou doelwit om jou studente te laat leer, maar vir seker wil jy hulle nie die oorhand laat kry deur hulle toe te laat om eise te stel nie. So, wanneer jy ʼn kompromis aangaan, stel jy perke vir wat jy gewillig is om te gee.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel