loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
onderwysers-nederige-argitekte-van-afrikaanse-skole-se-sukses

Foto Krediet: Solidariteit

Onderwysers: nederige argitekte van Afrikaanse skole se sukses

Leré Nel

Afrikaanse skole se uitsonderlike prestasie bo die nasionale gemiddeld in die 2025-matriekeksamen is nie toevallig nie. Dit is die produk van ʼn diepgewortelde kultuur van toewyding, kundigheid en onderwysers wat die ekstra myl stap.

Dít was die kernboodskap tydens die bekendstelling van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se matriekverslag by Hoërskool Menlopark op 30 Januarie 2026.

Volgens hierdie verslag presteer Afrikaanse skole beduidend beter as die nasionale gemiddeld, ondanks die feit dat hulle slegs 8,1% van die skole verteenwoordig wat matriek geskryf het. Afrikaanse skole lewer uitsonderlike resultate, veral in kernvakke soos Wiskunde, waar Afrikaanse skole se slaagsyfer 22% hoër is as die nasionale gemiddeld, en hulle drie keer meer Wiskunde-onderskeidings behaal as nie-Afrikaanse skole.

Kobus Hartman, die skoolhoof van Hoërskool Menlopark, het tydens die geleentheid beklemtoon dat die geheelontwikkeling van kinders ʼn prioriteit moet wees. “Ons wil kinders met lewensvaardighede by ons hekke uitstuur. Ons is ʼn Christelike skool met Christelike waardes, en ons is trots op ons moedertaal,” sê Hartman.

Afrikaanse onderwysers en skole fokus inderdaad op meer as net akademie. Volgens die SOS is dit een van die redes waarom Afrikaanse skole jaar ná jaar bo die nasionale gemiddeld presteer.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, het dit duidelik gestel dat slaagsyfers alleen nie meer as ʼn voldoende maatstaf van prestasie dien nie – veral omdat daar sekere grys areas in die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se matriekverslag bestaan.

“Die persentasie onderskeidings wat skole behaal, is ʼn beter maatstaf van prestasie,” het hy gesê.

Hy het ook gewaarsku dat daar landwyd ʼn strategiese poging aangewend word om leerders te ontmoedig om moeiliker vakke te neem, sodat dit lyk asof die betrokke skool beter vaar. “Kinders word aangemoedig om makliker vakke te neem sodat hulle makliker kan slaag,” noem Vermeulen.

“Slegs 34% van matrikulante het in 2025 Wiskunde geneem, terwyl al hoe meer Wiskundige Geletterdheid neem. Dit is duidelik dat Wiskundige Geletterdheid vir baie ʼn makliker uitweg is, omdat ʼn mens steeds vir sekere universiteitsgrade toelating daarmee kan kry.”

Hy waarsku egter dat hierdie neiging baie leerders benadeel deur hulle opsies vir tersiêre opleiding só te beperk – veral dié wat wel in staat is om Wiskunde suksesvol te voltooi.

Hoewel Afrikaanse skole se prestasie indrukwekkend bly, het Vermeulen ook op ʼn groeiende kommer gewys. By Afrikaanse skole neem slegs 25,1% van leerders Wiskunde – minder as die nasionale gemiddeld van 36%. Die SOS het benadruk dat hierdie verskynsel dringend aangespreek moet word.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, sê Afrikaanse skole se uitnemende prestasie is ten spyte van die staat, nie as gevolg van die staat nie.

“Ons Afrikaanse skole het geweldig baie uitdagings wat in hul pad gelê word in terme van politieke voorskriftelikheid, beperkte befondsing, beperkte posvoorsiening, en ʼn gebrek aan ondersteuning van die DBO,” sê Buys.

“Die sleutel tot Afrikaanse skole se sukses lê nie in bevoorregting nie, maar in die kultuur van uitnemendheid in die skole, en die betrokkenheid van die groter skoolgemeenskap – asook kundige en toegewyde onderwysers wat kinders binne ʼn gesonde omgewing ondersteun.”

Dit is duidelik dat gemeenskappe en die ouers Afrikaanse skole dra, en dit is wat hierdie skole se sukses volhoubaar maak.

Die 2025-matriekgroep het, volgens Buys, ʼn besonderse uitdagende skoolloopbaan beleef, aangesien hulle tydens die Covid-19-pandemie in graad 7 en 8 was.

“Die feit dat hierdie groep so goed presteer het, dui daarop dat hulle onderwysers in 2020 en 2021 vasgebyt het sodat hierdie groep hul skoolloopbaan suksesvol kan deursien.”

Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, het ook sy dankbaarheid teenoor onderwysers uitgespreek.

“Vir Afrikaanse onderwysers gaan dit gewoonlik nie net oor die vakinhoud nie. Dit gaan oor die geheel-kind-ontwikkeling. Hulle is daar om kinders vaardighede te leer, om ʼn omgewing te skep waarin kinders veilig is en kan presteer.”

Volgens Fourie weerspieël die 2025-uitslae die ingesteldheid van Afrikaanse onderwysers.

“Dankie aan elke onderwyser wat die ekstra myl stap vir ons kinders en hulle help om te floreer.”

Dit is duidelik dat toegewyde onderwysers ʼn groot dryfkrag agter Afrikaanse skole se prestasie is. Dit is ʼn groot taak, want dit is onderwysers wat aan die toekomstige leiers van ons land bou.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel