Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
12 uur gelede
fokus-eerder-op-bedrogspul-in-onderwys

Foto Krediet: OkayDeer

Fokus eerder op bedrogspul in onderwys, nie raskwotas in klaskamer

Solidariteit se Onderwysernetwerk het die rasbehepte skrywe van ʼn distriksdirekteur van Mpumalanga se onderwysdepartement as nog ʼn waansinnige politieke aanval op funksionerende Afrikaanse skole beskryf.

Hierdie brief van ʼn distriksdirekteur, Peter Magagula, is volgens Rapport aan skoolhoofde van kwintiel 5-skole gestuur met die opdrag dat hulle die rassesamestelling van sowel onderwysers as leerders van hul skole aan hom moet stuur.

Magagula het glo selfs ʼn rastelkaart aangeheg waarop hierdie skole dan die hoeveelheid wit, swart, bruin of Indiër-onderwysers, leerders en beheerliggaamlede moet afmerk.

Die uitstuur van hierdie skrywe is in dieselfde week onthul waarin senior amptenare in Mpumalanga se onderwysdepartement in die hof moes verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery van R113 miljoen.

Onder die 40 beskuldigdes is die departement se voormalige waarnemende departementshoof én finansiële hoof.

Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, lê hierdie opspraakwekkende gebeure in dié provinsie se onderwysdepartement die algehele gebrek aan goeie prioriteite bloot.

“Dit gaan buitengewoon sleg in Mpumalanga se onderwysdepartement. Die skokkende aantygings van bedrog wys hoe misdadigheid selfs die departement se topleierskap binnegedring het.

“Tóg ag ʼn distriksdirekteur dit as ʼn gepaste oomblik om skole onder die departement se sambreel, wat ondanks die regering se tekortkominge goed funksioneer, oor rasse-ideologie voor te skryf,” sê Botha.

Volgens Botha is hierdie ʼn duidelike voorbeeld van waarom die teenstand teen die Bela-wet so sterk was voor dit tóg in September 2024 deur president Cyril Ramaphosa onderteken is.

“ʼn Onderwysamptenaar soos Magagula wat, gewapen met sy raskwota-idees, sy mag wil gebruik om funksionerende skole en klaskamers te ontwrig, moet so ver as moontlik van skole weggehou word.

“Die brief wat hy aan skoolhoofde gerig het, is niks meer as ʼn politieke aanval op toppresterende Afrikaanse skole en toegewyde onderwysers nie, uitgereik deur ʼn amptenaar van ʼn departement wat juis geken word vir sy swak prestasie, wanbestuur en wanbesteding van fondse,” sê Botha.

Solidariteit se Onderwysernetwerk moedig skoolhoofde, onderwysers of beheerliggame aan om rasdreigemente soos dié onder die netwerk se aandag te bring.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel