Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
City Press-werknemers moenie prys vir swak bestuursbesluite betaal
Solidariteit het formele kennisgewing ontvang van Media24 se voorneme om die City Press-nuusredaksie ingevolge artikel 189A van die Wet op Arbeidsverhoudinge te ontbind.
Die voorgestelde herstrukturering is die gevolg van voorneme wat uitgespreek is om City Press te sluit en kan 19 werknemers direk raak. Solidariteit verteenwoordig egter meer as 100 lede binne Media24 en die implikasies van hierdie besluit strek dus verder as net ʼn enkele nuusredaksie.
Johan Roos, arbeidsverhoudinge-organiseerder by Solidariteit, sê die vakbond sal die voorgestelde sluiting deeglik ondersoek.
“Hoewel Media24 finansiële uitdagings as motivering vir die besluit aanvoer, is dit heeltemal billik om te vra of vorige herstruktureringsbesluite en strategiese skuiwe nie moontlik tot die huidige situasie bygedra het nie,” sê Roos.
Die herstrukturering hou verband met ʼn 2024-besluit om gedrukte uitgawes van City Press en ander koeranttitels te staak en dit uitsluitlik aanlyn beskikbaar te stel.
Roos meen werknemers wat die organisasie deur jare van grootskaalse verandering in die nuusmedia gedra het, kan nie nou alleen die slagoffers van bestuursbesluite word nie.
“Jy kan nie verwag van werknemers wat die onderneming deur moeilike tye ondersteun en aan die lewe gehou het, om nou die prys vir bedenklike strategiese besluite wat op uitvoerende vlak geneem is, te betaal nie. Afleggings moet, veral in hierdie geval, ʼn laaste uitweg bly.”
Roos beklemtoon dat die Wet op Arbeidsverhoudinge betekenisvolle konsultasie, deursigtigheid en die werklike oorweging van alternatiewe vereis alvorens ʼn finale besluit geneem word.
“Solidariteit sal op volledige openbaarmaking van finansiële projeksies en modellering aandring, en bewyse van die deeglike oorweging van alle redelike alternatiewe tot sluiting versoek. Ons lede het die reg op billike behandeling, waardigheid en prosedurele geregtigheid,” sê hy.
Solidariteit bevestig sy verbintenis tot die beskerming van sy lede se werksekerheid en sal met erns aan die konsultasieproses deelneem.