Foto Krediet: Unsplash
Gekopieër
Likwidasie sal nóg pyn bring ná Ekapa-myntragedie
Solidariteit het vandag sy meegevoel uitgespreek met werkers en familielede wat geraak word deur die tragiese moddervloed op 17 Februarie 2026 by die Du Toitspan-gesamentlike skag van Ekapa Mining.
Die tragedie het tot die verdwyning van vyf mynwerkers ongeveer 890 meter ondergronds gelei en word nou gevolg deur die besluit om die myn te sluit en te likwideer.
Die myn se bestuur het aangekondig die tragedie, tesame met ʼn langdurige afswaai in die wêreldwye diamantmark en ʼn daling van 55% in die prys van ruwe diamante sedert laat 2025, het die onderneming nie meer lewensvatbaar gemaak nie. Herstelwerk aan die betrokke skag sou na raming tussen 10 en 18 maande neem en sou aansienlike kapitaal vereis.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is hierdie dubbele tragedie ʼn groot slag vir die gemeenskap.
“Ongeveer 1 300 werkers staar nou onmiddellike werkloosheid in die gesig. Boonop word berig dat talle werkers nog nie hul salarisse vir Februarie 2026 ontvang het nie.
“Die moontlike likwidasie raak nie net werknemers nie – dit word ʼn gemeenskapskrisis. In ʼn streek soos die Noord-Kaap, en spesifiek Kimberley, is alternatiewe werkgeleenthede beperk. Die impak op gesinne én die breër gemeenskap gaan enorm wees,” sê Venter.
Volgens Venter sal Solidariteit verseker hul lede word regdeur die likwidasieproses bygestaan, indien dit voortgaan.
“Ons hoop egter ʼn alternatiewe oplossing kan gevind word om die myn, ten spyte van die tragiese ongeluk en markdruk, vir die werkers en die gemeenskap oop te hou.”
Solidariteit doen ʼn beroep op alle rolspelers om die gemeenskap se langtermynbelange in ag te neem en verantwoordelike oplossings te ondersoek om verdere ekonomiese verwoesting in Kimberley te voorkom.