loading
avatar
Artikels
14 uur gelede
regskennisgewings-nou-op-maroela-media-beskikbaar

Foto Krediet: Solidariteit

Regskennisgewings nou op Maroela Media beskikbaar

Deur Leré Nel

Met die sluiting van gedrukte koerante het baie dinge verlore gegaan – dinge wat voorheen as vanselfsprekend aanvaar is. Een van hierdie dinge wat ons verloor het sonder dat baie van ons dit besef het, is regskennisgewings in die koerante.

Só sê Susan Lombaard, uitvoerende direkteur van Maroela Media. “Maroela Media het gesien dat daar tog steeds ʼn behoefte aan hierdie kennisgewings is – veral onder regsfirmas. Daarom het Maroela Media besluit om só ʼn funksionaliteit op ons platform te ontwikkel,” vertel sy.

In die verlede is regskennisgewings in die koerante gebruik om onder meer:

  • • persone of die publiek in kennis te stel van dagvaardings of hofsake;
  • • boedelkennisgewings en kennisgewings van die likwidasie van boedels uit te reik;
  • • skuldeisers in kennis te stel dat hulle eise moet indien;
  • • persone of maatskappye insolvent te verklaar;
  • • likwidasiekennisgewings uit te reik; en
  • • kennis te gee oor die rehabilitasie van insolvente persone.

Kennisgewings van hierdie aard is vandag steeds nodig, en baie daarvan word deur die Wet vereis.

Andries du Toit, hoof van digitale besigheidstrategie en innovasie by Maroela Media, vertel dat die ontwikkeling van die regskennisgewing-funksionaliteit ʼn baie bevredigende proses was.

“Dit maak my opgewonde dat ʼn klomp slim, innoverende mense koppe bymekaar gesit het om ʼn probleem op te los wat vir lank nie opgelos kon word nie. Hierdie kennisgewings op Maroela Media se platform gaan vir baie regslui en vir die publiek ʼn oplossing bied. Regslui kan hierdeur self plasings op Maroela Media se platform plaas. Dit is vinnig en koste-effektief,” sê Du Toit.

Die Solidariteit Regsnetwerk is ook ʼn trotse ondersteuner van hierdie inisiatief.

“Wat hierdie inisiatief nóg meer waardevol maak, is dat 10% van die winste wat uit plasingsfooie verbonde aan hierdie regskennisgewings gemaak word, aan die Regsnetwerk-studiefonds geallokeer gaan word,” vertel Du Toit.

Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, spreek sy dankbaarheid teenoor Maroela Media uit: “Maroela Media tree in waar die klassieke koerante-forum regslui tans faal. Ons sien uit vir die verdere ontwikkeling van hierdie produk vir regslui en ons moedig regslui aan om van die platform gebruik te maak,” sê Glas. “Nie net ondersteun dit Maroela Media nie, maar daardeur help jy indirek om behoeftige studente in staat te stel om Regte te gaan studeer.”

Die Solidariteit Regsnetwerk-studiefonds, wat deur die Solidariteit Regsnetwerk in samewerking met die Solidariteit Helpende Hand Studietrust bestuur word, stel in 2026 drie Afrikaanse studente in staat om Regte aan Akademia te gaan studeer. Hierdie studente sou sonder dié fonds nie kon studeer nie.

“Byvoorbaat dankie vir elke firma wat hierdie platform gaan gebruik. Ons glo dat die platform van krag tot krag sal gaan, en dat ons daardeur nóg toekomstige regslui in staat kan stel om te studeer,” sê Glas.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel