loading
avatar
Mediaverklarings
6 uur gelede
smelterye-op-hete-kole-voor-sperdatum-vir-afleggings

Foto Krediet: Pexels

Smelterye op hete kole voor sperdatum vir afleggings

Tensy Eskom of die minister van elektrisiteit op die nippertjie met oplossings oor kragtariewe vorendag kan kom, is groot hartseer op hande vir duisende werknemers en hul gesinne rondom die Witbank-omgewing.

Die sperdatum van 28 Februarie, waarop Glencore-Merafe en Samancor met Eskom ooreengekom het, breek die naweek aan en tans is daar steeds geen sprake van ʼn verbeterde kragtarief van 62c per KW/h wat hierdie ferrochroomsmelterye benodig om te oorleef nie.

Eskom se voorgestelde tussentydse tarief van 87,7c per KW/h sal nie voldoende wees om die bedrywighede te red nie.

Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, is die kommer nou op die spits gedryf ná afloop van ʼn begrotingsrede waarin daar ook geen verligting vir die smelterye aangekondig is nie.

“Die begrotingsrede het gekom en gegaan; die spertyd is bykans hier en steeds is daar géén lig in die tonnel nie. Ons is uiters bekommerd oor die gevolge vir duisende werknemers van smelterye en verwag dit kan die lewens van minstens 12 000 mense raak.

“Al hoop is nou dat Eskom of die minister van elektrisiteit betyds met ʼn oplossing vorendag sal kom om die bedryf en sy werkers te red,” het Venter gesê.

Benewens Glencore-Merafe en Samancor het die mangaansmelter Transalloys ook bevestig hy sal moontlik sy deure moet sluit indien ʼn beter kragtarief nie ter sprake kom nie.

Transalloys verskaf werk aan nagenoeg 600 mense in Witbank, terwyl Samancor se aanlegte in Witbank en Middelburg sowat 1 000 mense en Glencore s’n in Witbank ongeveer 130 werknemers werk verskaf. Columbus Steel met sy sowat 2 000 werknemers in Middelburg is ook onder druk, en Ferroglobe in Witbank het ook onlangs poste verminder en kan sonder kragtariefverligting verdere probleme in die gesig staar.

Hierdie werknemers en hulle gesinne verteenwoordig volgens Venter meer as 12 000 mense in ʼn gemeenskap wat nie lank gelede reeds deur die sluiting van Highveld Steel geruk is nie.

“Die impak van afleggings op die Mpumalanga-omgewing waarin Witbank en Middelburg geleë is, sal groot wees. Ons bekommernis is dat grootskaalse werkloosheid op hierdie omgewing wag.

“’n Situasie soos die een wat Newcastle (met die staalbedryf) getref het, wag op die gemeenskap,” sê Venter.

Solidariteit doen dus ʼn laaste dringende beroep op Eskom en die minister om voor die einde van Februarie aan die pleidooi van duisende werknemers gehoor te gee en om sodoende ernstige werksverliese te voorkom.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel