loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
veranderinge-aan-prokureurseksamens

Foto Krediet: ChatGPT

Veranderinge aan prokureurseksamens: Wat klerke nou moet weet

Deur Robin-Lee Maré

Die Regspraktykraad gaan die huidige vier-eksamenkurrikulum vir kandidaatprokureurs vanaf 2027 vervang met ʼn nuwe stelsel waarvolgens vyf vraestelle voltooi moet word.

Hierdie verandering is daarop gemik om onvoorspelbare toetsing en verouderde inhoud aan te spreek en om kandidaatprokureurs beter vir die werklikheid van praktyk voor te berei.

Emil Glas, organiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk, waarsku egter dat kandidaatprokureurs wat tans vir die eksamens voorberei, kennis moet neem van hierdie oorgang.

“Ons wil studente waarsku en inlig oor hoe die nuwe stelsel gaan werk. Indien jy slegs een vraestel druip, behou jy nie jou krediete nie. Jy sal dus die volgende jaar al vyf vraestelle moet herhaal.

“Dit is belangrik dat klerke wat vanjaar skryf, hiervan kennis neem en deeglik voorberei. Hierdie jaar is die laaste geleentheid vir kandidate om die vier-eksamenkurrikulum te skryf,” sê Glas.

Hierdie realiteit maak 2026 ʼn uiters belangrike jaar vir kandidaatprokureurs wat nog onder die bestaande stelsel eksamens wil aflê.

Hoe lyk die huidige stelsel?

Tans bestaan die prokureurseksamens uit vier vraestelle:

  • hoër- en landdroshofpraktyk;
  • boedels;
  • etiek en praktiese toepassing; en
  • boekhouding

Die eksamens word twee keer per jaar aangebied: in Maart (eerste sessie) en Augustus (tweede sessie).

Wat verander vanaf 2027?

Die nuwe vyf-vraestelstelsel is ʼn poging om die prokureurseksamens beter met die advokaat-toelatingseksamens te belyn. Volgens amptenare is die doel om groter konsekwentheid, beter voorbereiding en vloeiende professionele beweging tussen die twee takke van dié beroep moontlik te maak.

Die nuwe struktuur sal soos volg lyk:

  • Vraestel 1: Hofpraktyk en kontrakopstelling
  • Vraestel 2: Gekombineerde strafhofpraktyk en kuberreg
  • Vraestel 3: Testamente en boedels, gekoppel aan huweliksreg
  • Vraestel 4: Professionele regsetiek, gekombineer met grondwetlike praktyk en geskilbeslegting
  • Vraestel 5: ʼn Gemoderniseerde finansiële bestuurskomponent wat trustrekeningprosedures en praktykbestuur integreer

Verder ontwikkel die Regspraktykraad tans 15 studiegidse ter ondersteuning van die nuwe kurrikulum.

Praktiese implikasies vir kandidaatprokureurs

Vir kandidate wat in 2026 skryf, is die boodskap duidelik: slaag al jou vraestelle. Indien jy een vraestel nie slaag nie, bestaan die risiko dat jy jou krediete verloor en in 2027 onder die nuwe vyf-vraestelstelsel die eksamens moet herhaal.

Glas beklemtoon dat kandidaatprokureurs nie tot ná ʼn teleurstelling moet wag om raad te soek nie.

“As jy enige vrae oor die eksamens het, moedig ons jou aan om uit te reik en die Regsnetwerk te kontak. Ons staan gereed om jou met advies by te staan en jou deur enige onsekerhede te lei.”

Die komende maande is dus van kardinale belang. Deeglike voorbereiding, goeie beplanning en tydige ondersteuning kan die verskil beteken tussen ʼn suksesvolle toelating tot die professie en ʼn ekstra jaar se eksamenstres.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel