loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
ons-houdie-sapd-dop

Foto Krediet: Verskaf

‘Ons hou die SAPD dop,’ sê Solidariteit ná nóg knoeiery met posaansoek

Deur Robin-Lee Maré

Toe daar vir bewyse gevra is om te verduidelik waarom ʼn bevoegde SAPD-kandidaat nie eens vir ʼn pos op die kortlys geplaas is nie, was die dokumente skielik net wég. Daar was geen volledige rekords nie, geen behoorlike motivering nie – slegs leë spasies waar deursigtigheid moes wees.

In nóg ʼn skreiende voorbeeld van onbillike arbeidspraktyke by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), is lt.kol. David Malong oor die hoof gesien vir bevordering – ten spyte daarvan dat hy aan al die vereistes vir die pos voldoen het. Danksy die ingryping van Solidariteit se organiseerder, Ronél Stander, het hy egter nie nóg ʼn slagoffer van aanstellingsknoeiery in die polisiediens geword nie.

“Wanneer prosedures sommer net geïgnoreer en meriete opsy geskuif word, benadeel dit nie net een persoon nie – dit tas die hele diens se integriteit aan,” sê Stander.

Dit is juis hierdie beginsel wat sentraal gestaan het in ʼn onlangse uitspraak deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) teen die SAPD.

Op 13 Februarie 2026 het die KVBA bevind dat die SAPD ʼn onbillike arbeidspraktyk begaan het deur lt.kol. David Malong nie vir die pos van Stasiebevelvoerder Caledon op die kortlys te plaas nie en het gelas dat twee maande se vergoeding aan hom betaal moet word.

“Tydens die arbitrasie het dit aan die lig gekom dat die redes vir Malong se uitsluiting nie beskikbaar was nie, aangesien verskeie dokumente wat tydens die bevorderingsproses voltooi moes word, ontbreek het,” sê Stander.

Volgens haar het hierdie gebrekkige administrasie ernstige twyfel laat ontstaan oor die geldigheid en deursigtigheid van die proses. Stander verduidelik dat die saak verder verstewig is deur die feit dat Malong aan al die vereistes vir die pos voldoen het.

“Nadat sy aansoek met die paneel se keuringskriteria vergelyk is, het dit geblyk dat hy beter punte behaal het as al die kandidate op die kortlys, insluitend die suksesvolle kandidaat. Tog is hy nie vir ʼn onderhoud oorweeg nie.”

Kommissaris Thuthuzela Ndzombane het bevind dat die keuringspaneel, wat uit senior offisiere bestaan het, versuim het om die proses behoorlik en akkuraat te bestuur. Basiese en ernstige foute is gemaak in die voltooiing van dokumente en in die toepassing van keuringskriteria. Die kommissaris het die paneel se optrede as irrasioneel, onregverdig en arbitrêr beskryf.

Daar is verder bevind die onreëlmatighede was van so ʼn aard dat die aansoeke van al ses kandidate op die kortlys in werklikheid verwerp moes gewees het, aangesien hulle nie aan die basiese vereistes voldoen het nie.

In ʼn verdere betekenisvolle ontwikkeling is Malong op 1 Maart 2025, in ʼn ander bevorderingsronde, aangestel as stasiebevelvoerder van Malmesbury SAPD, op die vlak van kolonel.

Stander meen hierdie aanstelling dien as ʼn duidelike bewys van Malong se geskiktheid en bevoegdheid om ʼn stasiebevelvoerderspos te beklee. “Dat hy bevoeg geag is om ʼn ander stasie te lei, maar nie eens vir Caledon op die kortlys geplaas is nie, beklemtoon die onreëlmatigheid van die oorspronklike besluit.”

Stander benadruk dat Solidariteit die uitspraak verwelkom en dit as ʼn duidelike boodskap aan die SAPD beskou.

“Hierdie oorwinning bevestig dat staatsinstellings nie bo die wet verhewe is nie. Ons lede het ʼn reg op ʼn billike, rasionele en deursigtige bevorderingsproses. Wanneer daardie reg geskend word, sal Solidariteit optree. Ons hou die SAPD dop. Ons sal nie onbillike behandeling van ons lede duld nie. Waar daar prosedurele gebreke is en arbitrêre besluite geneem word, sal ons ingryp.”

Stander verduidelik dat hierdie saak nie bloot ʼn persoonlike oorwinning vir kolonel Malong is nie, maar ʼn bevestiging dat administratiewe geregtigheid en meriete steeds die grondslag van bevorderingsprosesse moet wees.

“Solidariteit bly daartoe verbind om toe te sien dat hierdie beginsels konsekwent en sonder uitsondering toegepas word,” sluit Stander af. “Ons gaan in die toekoms die SAPD forseer om op te tree teen paneellede wat hulself skuldig maak aan sulke arbitrêre gedrag. Verder sal die koste verbonde aan hierdie uitsprake van die betrokke individue verhaal moet word, eerder as van die belastingbetaler.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel