Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Onderwysers en skole voel die druk van laat subsidies
Pieter Jordaan
Solidariteit se Onderwysernetwerk het met groot kommer kennis geneem van berigte dat laat betalings van staatsubsidies toenemende finansiële druk op skole plaas en skoolbestuur dwing om moeilike besluite te neem wat uiteindelik ook onderwysers raak.
Skole regoor die land word tans gekonfronteer met onsekerheid oor subsidiebetalings, terwyl die werklike koste om skole te bestuur aanhou styg.
In reaksie hierop sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, dat die situasie nie bloot ʼn administratiewe probleem is nie, maar ʼn regstreekse bedreiging vir onderwysers se werkomstandighede en vir die algehele stabiliteit van skole, waar finansiële druk reeds ʼn werklikheid is.
Daar bestaan ook ʼn wanpersepsie oor die welvarendheid van veral skole wat as kwintiel 4- en 5-skole geklassifiseer is, maar wat steeds binne omgewings met ernstige maatskaplike uitdagings funksioneer.
Al hoe meer van hierdie skole verkeer onder druk, en al hoe meer onderwysers moet hierdie druk hanteer.
“Wanneer subsidies laat betaal word of verminder, is dit in baie gevalle nie net die skool as instelling wat geraak word nie,” sê Botha.
“Onderwysers sit met groter klasse, minder hulpbronne en toenemende administratiewe druk. Dit is onvermydelik dat dit in sommige gevalle tot ʼn verswakking in die gehalte van onderwys sal lei.”
Botha sê Solidariteit se Onderwysernetwerk waarsku reeds jare lank dat die staat se finansiële druk toenemend na skole en ouers afgewentel word, terwyl daar terselfdertyd meer regulasies en vereistes op skole geplaas word.
“Die werklikheid is dat skole al meer moet doen met al minder. Die staat verwag dat skole aan al hoe meer regulasies moet voldoen, maar versuim om die nodige finansiering betyds en voldoende beskikbaar te stel. Hierdie situasie plaas skoolbesture en onderwysers in ʼn bykans onmoontlike posisie,” sê hy.
Die Onderwysernetwerk wys daarop dat onderwysers dikwels eerste die gevolge van finansiële druk ervaar. Dit sluit onder meer verhoogde werklading, minder ondersteuning, poste wat nie gevul word nie, en groter druk om akademiese resultate te handhaaf ondanks beperkte hulpbronne in.
“Wanneer skole nie genoeg fondse ontvang nie, beteken dit dikwels dat poste nie gevul of vervang word nie, dat ondersteuningspersoneel verminder word en dat onderwysers meer verantwoordelikhede moet dra. Dit is onvolhoubaar en dra by tot uitbranding in hierdie beroep,” sê Botha.
Hierdie uitbranding is geensins ʼn geringe saak nie en het natuurlik ʼn direkte impak op die leerders wie se belange juis deur skole beskerm en bevorder moet word.
Die Onderwysernetwerk beklemtoon verder hoe die huidige situasie die selfstandigheid van skole onder druk plaas.
Volgens Botha is dit onaanvaarbaar dat skole toenemend afhanklik gemaak word van ouers se bydraes, terwyl die staat terselfdertyd meer beheer oor die bestuur van skole wil uitoefen.
“Die staat kan nie aan die een kant finansiering verminder of terughou en aan die ander kant meer beheer oor skole opeis nie.
“Skole het stabiliteit, voorspelbaarheid en respek vir hul bestuursregte nodig om behoorlik te kan funksioneer,” sê hy.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk doen ʼn dringende beroep op die Departement van Basiese Onderwys en provinsiale departemente om te verseker dat subsidiebetalings betyds geskied en dat skole nie verder onder finansiële druk geplaas word nie.
Die netwerk wys daarop dat onderwysers reeds meer doen as wat van hulle verwag word en dat volgehoue druk op die stelsel uiteindelik die gehalte van onderwys in die land sal benadeel.