loading
avatar
Artikels
14 uur gelede
wat-die-gauteng-databreuk-vir-it-praktisyns-en-suid-afrika-beteken

Foto Krediet: Pexels

Wat die Gauteng-databreuk vir IT-praktisyns en Suid-Afrika beteken

Pieter Jordaan

Die onlangse databreuk in Gauteng is nie ʼn geïsoleerde voorval nie. Dit is ʼn ernstige waarskuwing oor die toestand van Suid-Afrika se digitale infrastruktuur.

Dít volgens Stef Pretorius, koördineerder van die Solidariteit IT-netwerk, wat lede van die IT-bedryf landwyd verteenwoordig.

Mediaberigte het die omvang van die onlangse databreuk onthul en veel groter vrae het gevolglik ontstaan.

Pretorius sê kundige werkers in die IT-bedryf sal gou die kern van die probleem kan uitwys: wanneer stelsels verouderd raak, instandhouding uitgestel word, kundige personeel nie aangestel of behou word nie, en politieke of administratiewe oorwegings swaarder as tegniese realiteite weeg, is ʼn sekuriteitsbreuk nie ʼn verrassing nie, maar ʼn onafwendbare gevolg van nalatigheid.

“Baie Solidariteit-lede werk daagliks in omgewings waar hulle presies dieselfde patrone sien,” sê Pretorius.

“Onvoldoende begrotings vir instandhouding, belangrike poste in kuberveiligheid wat vakant bly, kontrakte wat op grond van faktore anders as meriete toegeken word, en ʼn gebrek aan langtermynbeplanning. Wanneer dit gebeur, word die risiko nie net deur die staat gedra nie, maar deur elke burger wie se private data op hierdie stelsels is.”

Volgens Pretorius is hierdie benadering tot kuberveiligheid uiters onverantwoordelik, veral vir ʼn provinsiale regering.

“In enige moderne ekonomie is kuberveiligheid deel van ʼn land se kritieke infrastruktuur – net soos elektrisiteit, water en vervoer. Wanneer provinsiale of nasionale stelsels dus kwesbaar is, raak dit die hele samelewing – van ondernemings wat op betroubare data staatmaak tot gewone mense wie se persoonlike inligting beskerm moet word,” verduidelik hy.

Vanuit die perspektief van persone wat in die IT-bedryf werk, is een van die grootste bekommernisse dat Suid-Afrika besig is om agter te raak in ʼn wêreld waar digitale veiligheid al hoe belangriker word.

Internasionaal word groot bedrae aan modernisering, opleiding en die behoud van vaardighede in die bedryf bestee. Plaaslik sien ons egter te dikwels hoe kundigheid verlore gaan, met ervare personeel wat die land of die sektor verlaat en institusionele kennis wat nie oorgedra word nie.

Die gevolg is verhoogde druk op die oorblywende tegniese personeel, wat dikwels nie die nodige ondersteuning, hulpbronne of besluitnemingsmag het om probleme betyds aan te spreek nie.

“Wanneer ʼn databreuk plaasvind, word die tegniese personeel dikwels eerste blameer, terwyl die werklike oorsake jare se verwaarlosing en swak bestuur is,” sê Pretorius.

Die Solidariteit IT-netwerk glo dat hierdie voorval in Gauteng ʼn keerpunt moet wees. Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat sy digitale infrastruktuur verder verswak nie. Dit vereis ʼn hernude fokus op vaardigheidsopleiding in die bedryf, aanspreeklikheid en langtermynbeplanning.

Tegniese poste moet deur bevoegde individue gevul word, instandhouding moet geprioritiseer word en kuberveiligheid moet as ʼn nasionale belang behandel word.

In die digitale era is swak bestuur en onvoldoende stelselinstandhouding ʼn veiligheidsrisiko. Indien provinsiale regerings nie dringend hul benadering tot tegnologie en kuberveiligheid verbeter nie, sal soortgelyke voorvalle die norm word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel