Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Agentic AI: “Jou volgende gebruiker is nie ʼn mens nie.”
Deur Leré Nel
Jou besigheid se gebruikerskoppelvlak (“user interface”) is dalk nie geskik of bruikbaar vir jou volgende kliënt nie.
Juis omdat dit nie ʼn mens gaan wees nie – maar ʼn KI-agent. Hoe vreemd om aan te dink!
Maar volgens Tjaard du Plessis is dit ʼn groot moontlikheid dat dit binnekort die werklikheid kan word.
By ʼn onlangse netwerkgeleentheid vir IT-praktisyns het Du Plessis ʼn voorlegging aangebied oor die rigting waarin kunsmatige intelligensie (KI) binnekort kan beweeg, en hoe IT-praktisyns en -ondernemings kan gereedmaak vir hierdie veranderinge.

Tjaard du Plessis, uitvoerende bestuurder van professionele dienste by Synthesis Software Technologies, het meer as vyftien jaar se ervaring in sagteware-ontwikkeling en digitale transformasie en het al digitale transformasieprojekte vir verskeie groot ondernemings gelei. Hy beskik oor ʼn MSc in Rekenaarwetenskap van die Noordwes-Universiteit. Sy fokus is tans op opkomende tegnologieë, wolkoplossings en KI-gedrewe platforms.
By hierdie netwerkgeleentheid was die hooffokus van die lewendige gesprekke Agentic AI, en hoe dit die gebruik en werking van gebruikerskoppelvlakke gaan verander.
Volgens du Plessis is die kernvraag nie meer net wat kunsmatige intelligensie kan doen nie, maar hoe dit die kanaal tussen ondernemings en hul kliënte gaan verander.
“Ons bou by Synthesis digitale kanale vir besighede – die manier waarop hulle met hul kliënte skakel. Die groot vraag is: hoe gaan Agentic AI daardie kanale verander?” het hy gesê.
Hy het verduidelik dat KI oor die afgelope paar jaar dramaties ontwikkel het – van tegnologie wat aanvanklik beperkte praktiese waarde gehad het tot instrumente wat vandag self komplekse take kan verrig sonder dat dit nodig is om enige opdrag (“prompt”) te gee.
By Synthesis word KI reeds in verskeie praktiese oplossings gebruik. Dit sluit onder meer in outomatiese e-pos-roetering, dinamiese opname-outomatisering en selfs stelsels wat vals mediese noodoproepe kan uitken en filter.
Die volgende fase van ontwikkeling is egter Agentic AI – stelsels wat self besluite kan neem oor wanneer en hoe take uitgevoer moet word.
“Agentic AI besluit self wanneer iets gegenereer of gedoen moet word. Dit vereis minder direkte ‘prompting’ en begin self aksies neem,” het du Plessis verduidelik.
Hy het die gehoor gewys hoe hierdie tegnologie reeds begin vorm aanneem in sektore soos die bankwese en in die interne prosesse van sekere ondernemings.
Hoewel baie van hierdie toepassings nog eksperimenteel is, is die implikasies vir die ontwerpers van verbruikerskoppelvlakke reeds duidelik: die manier waarop gebruikerskoppelvlakkeontwerp word moet drasties verander.
“Op die oomblik het webwerwe baie stappe waardeur jy moet gaan om net iets te doen of te koop. Maar as ’n agent jou skerm kan lees en outomaties aksies kan uitvoer, verander alles,” het hy gesê.

As KI-agente uiteindelik as gebruikers van digitale platforms begin optree, sal ontwikkelaars moontlik moet begin om minder te fokus op tradisionele koppelvlakke en meer op stelsels wat deur agente gebruik kan word.
“Gister het ons koppelvlakke vir mense gebou. Môre bou ons koppelvlakke vir KI-agente,” het du Plessis benadruk.
Hierdie ontwikkeling bring egter ook nuwe uitdagings.
“Die grootste vraag is hoe jy jou besigheid beskerm,” sê du Plessis. “As jy die mens uit die proses uitskakel, wie hou jy verantwoordelik vir foute? Ons weet dit nog nie – maar dit is beslis iets om oor na te dink.”
Volgens Dirk Smit, organiseerder van Solidariteit se IT-netwerk, is netwerkgeleenthede soos hierdie juis belangrik om belangrike gesprekke in die bedryf te stimuleer.
“Elke persoon wat hier is, is ʼn netwerkbouer op die einde van die dag. Deur te gesels oor onderwerpe soos Agentic AI wat relevant is tot vandag se lewe en ons werk, bou ons saam aan ʼn netwerk van mense wat voortbou aan die beroep,” sê hy. “So hou ons onsself relevant in ʼn snel veranderende IT-bedryf.”
Solidariteit se IT-netwerk bied kwartaalliks ʼn verrykende netwerkgeleentheid soos hierdie een aan.
Moet nie die volgende geleentheid misloop nie – bly ingeskakel by die netwerk!