Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
2 dae gelede
gdo-ontkenning-oor-besnoeiing-van-fondse-aan-kwintiel-5-skole-verwerp

Foto Krediet: OkayDeer

GDO-ontkenning oor besnoeiing van fondse aan kwintiel-5-skole verwerp

Die Solidariteit Onderwysernetwerk verwerp die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se ontkenning dat befondsing aan kwintiel-5-skole wél met sowat 65% besnoei is.

Die departement se bewering dat hierdie syfers “vals, misleidend en roekeloos” is, strook nie met hul eie begrotingsdokumente of met die werklikheid wat skole tans ervaar nie.

’n Onlangse verslag deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), gebaseer op data uit tientalle Gautengse kwintiel-5-skole, toon duidelik dat die per-leerder-toewysing vir 2026 van sowat R879–R900 na R315 daal – ʼn vermindering van ongeveer 65%. Hierdie syfers word bevestig deur die GDO se eie begrotingsertifikate, sowel as deur skole se vorige teenoor hulle nuwe toewysings.

“Dit is nie ’n kwessie van interpretasie of semantiek nie. Dit is ’n harde finansiële werklikheid,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.

“Wanneer ’n per-leerder-toewysing met meer as 60% verminder word, is dit ’n besnoeiing, ongeag of dit as ’n herbelyning beskryf word. Skole voel dit direk in hul begrotings, personeelstrukture en onderriggehalte.”

Die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, voer aan dat skole reeds in September 2025 van die veranderinge ingelig is. Die werklikheid is egter dat baie skole eers ná 14 Oktober 2025 hul begrotingsertifikate ontvang het nadat begrotings reeds gefinaliseer en aan ouers voorgelê is.

“Hierdie laat kennisgewing het beplanning ernstig ontwrig en is strydig met die Nasionale Norme en Standaarde vir Skolebefondsing (NNSSF) en die Skolewet se vereistes vir behoorlike konsultasie,” sê Botha.

Volgens die SNI-verslag kon 67% van die betrokke skole nie betyds aanpas nie. Dit het gelei tot onverwagte fooiverhogings, die verlies van poste en ernstige begrotingstekorte. Gemiddelde skooltoewysings het van ongeveer R600 000 tot sowat R400 000 gedaal, terwyl 80% van skole sukkel om basiese dienste te finansier.

Sien die volledige verslag hier.

“Die GDO het vir jare ’n diskresionêre aanvullende toelaag aan kwintiel-5-skole toegestaan en sodoende bepaalde verwagtinge geskep,” verduidelik Botha. “Om nou skielik terug te val op die nasionale minimum sonder ’n oorgangstydperk, behoorlike konsultasie of ’n impakstudie, plaas honderde skole in ’n finansiële krisis.”

Botha wys verder daarop dat die poging om die situasie uitsluitlik aan nasionale begrotingsdruk toe te skryf, onvolledig is.

“In Gauteng alleen is meer as R4,2 miljard in onreëlmatige uitgawes vir die 2024/25-boekjaar aangeteken. Dit dui op ernstige bestuur- en bestedingsprobleme. Die gevolg is dat belastingbetalers en ouers uiteindelik die prys betaal – eers deur vermorste belastinggeld en daarna deur verhoogde skoolfooie.”

Solidariteit doen ’n beroep op die GDO om die befondsingstrukture en die kwintielstelsel te hersien sodat skole die befondsing kan kry wat hulle nodig het.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel