loading
avatar
Mediaverklarings
6 uur gelede
vpi-van-3-nie-rede-om-opgewonde-te-raak

Foto Krediet: Pexels

VPI van 3% nie rede om opgewonde te raak

Opgewondenheid oor die jongste aangepaste verbruikersprysindeks (VPI) van 3% gaan van korte duur wees as gevolg van die impak wat die oliepryskrisis op Suid-Afrika gaan hê.

Al lyk dit of die Suid-Afrikaanse Reserwebank se beleid om inflasie in lyn met die 3% teiken te hou wél werk, glo Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) dat ʼn drastiese styging in oliepryse dié vordering ongedaan sal maak.  

“Hoewel monetêre beleid by ver die grootste bepaler van die inflasiekoers is, speel baie ander dinge ook ʼn rol. Die grootste hiervan is energiepryse, wat tans geheel en al buite Suid-Afrika se beheer is.

“Brandstofpryse gaan in April die hoogte inskiet, met ander items se pryse wat dan daarop sal volg. Indien die VSA en Israel hulle doelwitte in Iran vinnig bereik, behoort alles darem weer teen Junie te normaliseer. As Iran ʼn vriendeliker regering kry en self ook olie op die ope mark lewer kan oliepryse drasties daal, wat dan weer uitstekende nuus vir verbruikers sal wees.

“Dan sal die maand of drie van hoë brandstofpryse moontlik as ‘die moeite werd’ beskou kon word, omdat brandstofpryse dan volhoubaar laag kan bly,” sê Du Buisson.

Ongelukkig beklemtoon Du Buisson dat dit onmoontlik is om te voorspel hoe lank die oorlog gaan duur. 

Darem waarsku hy verbruikers om hulle te staal vir ernstige prysskokke op die korttermyn. Dit is veral kommerwekkend in bedrywe waar loononderhandelinge tans plaasvind.

“As die baie lae inflasiekoers van 3% gebruik word om salarisverhogings te bepaal, terwyl almal weet dat ernstige prysskokke op pad is, kan werkers uiteraard aan die verloorkant wees.

“Solidariteit doen daarom ʼn beroep op werkgewers om omsigtig hiermee te werk te gaan,” sê Du Buisson.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel