Afrikaans

English

loading
avatar
Artikels
4 uur gelede
solidariteit-verwys-media24-se-city-press-proses-na-kvba-vir-regverdige-en-gestruktureerde-konsultasie

Foto Krediet: Gemini

Solidariteit verwys Media24 se City Press-proses na KVBA vir regverdige en gestruktureerde konsultasie

Solidariteit het die voorgenome sluiting van City Press en die gepaardgaande artikel 189A-proses na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA)vir fasilitering verwys.

Planne word beraam om die redaksie te ontbind wat sedert 2024 vir die aanlyn weergawe van City Press verantwoordelik is. Die gedrukte koerant, wat sedert 1982 deel van die Suid-Afrikaanse medialandskap was, is in 2024 saam met Media24-koerante soos Rapport en Beeld afgeskaf.

Hierdie stap is geneem om te verseker dat die konsultasieproses behoorlik gestruktureer asook deursigtig en billik verloop, gegewe die omvang van die voorgestelde herstrukturering en die beduidende impak wat dit op werknemers gaan hê.

“Solidariteit het die KVBA betrek om te verseker dat hierdie proses behoorlik gelei word en dat werknemers ’n werklike en betekenisvolle geleentheid gegun word vir raadpleging,” sê Johan Roos, Solidariteit-organiseerder in arbeidsverhoudinge.

Roos wys daarop dat fasilitering in soortgelyke prosesse dikwels deur werkgewers self geïnisieer word om vertroue en deursigtigheid te bevorder.

“In baie gevalle kies werkgewers self om die KVBA te betrek om die proses te struktureer en geloofwaardigheid te versterk. Dit is dus belangrik dat alle partye in hierdie geval ook daardie standaard handhaaf,” sê Roos.

Hy beklemtoon verder dat die proses nie bloot as ’n formaliteit hanteer mag word nie, en dat alle alternatiewe tot aflegging eers deeglik oorweeg moet word.

“Waar die voortbestaan van poste en die toekoms van ’n gevestigde publikasie op die spel is, kan die proses nie afgejaag word nie. Werknemers het die reg op ʼn deeglike, regverdige en deursigtige konsultasieproses,” sê Roos.

Solidariteit verteenwoordig tans die meerderheid van die geaffekteerde werknemers en sal voortgaan om hul belange te beskerm en toe te sien dat die proses in ooreenstemming met die Wet plaasvind.

“Ons sal nie huiwer om verdere stappe te oorweeg indien die proses nie aan die vereistes van die Wet op Arbeidsverhoudinge voldoen nie,” voeg Roos by.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel