loading
avatar
Mediaverklarings
15 uur gelede
ses-jaar-later-sloer-regulasies-vir-skoolmaatskaplike-werk-steeds

Foto Krediet: OkayDeer

Ses jaar later sloer regulasies vir skoolmaatskaplike werk stééds

Solidariteit het ʼn skrywe aan die minister van maatskaplike ontwikkeling, Nokuzola Tolashe, gerig om antwoorde te kry oor die onaanvaarbare oponthoud in die afkondiging van regulasies vir die registrasie van spesialisrolle in skoolmaatskaplike werk.

Sien die skrywe hier.

Die konsepregulasies is reeds in 2020 vir openbare kommentaar gepubliseer, maar ses jaar later is dit steeds nie gefinaliseer nie.

Volgens Solidariteit skep hierdie vertraging ernstige onsekerheid in die sektor en benadeel dit kwesbare leerders, wat afhanklik is van maatskaplike ondersteuning in skole, regstreeks.

“Hierdie is nie bloot ʼn administratiewe vertraging nie; dit het werklike gevolge vir kinders wat daagliks met emosionele, sosiale en gesinsuitdagings worstel,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder by Solidariteit.

“Skoolmaatskaplike werkers speel ʼn onmisbare rol in die beskerming en ondersteuning van hierdie leerders, en die gebrek aan ʼn duidelike regulatoriese raamwerk verswak daardie rol.”

Skoolmaatskaplike werkers help onder meer om leerders met gedragsprobleme, emosionele trauma, afwesigheid, armoede en moontlike mishandeling te identifiseer en te ondersteun. Hulle dien ook as ʼn belangrike skakel tussen skole, gesinne en ander ondersteuningsdienste.

Solidariteit wys daarop dat die vertraging nie net die ontwikkeling van die beroep belemmer nie, maar ook bots met die staat se grondwetlike verpligting om kinders se regte te beskerm en te bevorder.

Die Grondwet bepaal duidelik dat die beste belange van die kind die oorheersende oorweging moet wees en dat elke kind die reg op onderwys en maatskaplike dienste het.

Volgens Smit skep die aanvanklike publikasie van die regulasies ook ʼn sogenaamde regmatige verwagting dat die proses binne ʼn redelike tyd afgehandel sou word.

Dit was toe geensins die geval nie.

“Belanghebbendes is genooi om insette te lewer, en dit skep ʼn regmatige verwagting dat die proses nie net in ʼn vakuum sal verdwyn nie. ʼn Ses jaar lange wagtydperk is onaanvaarbaar en dui op ernstige administratiewe nalatigheid,” voeg sy by.

Solidariteit het die departement versoek om:

  • duidelikheid te gee oor die huidige status van die regulasies;
  • redes vir die langdurige vertraging te verskaf; en
  • ʼn konkrete tydraamwerk vir finalisering bekend te maak.

Solidariteit het verder versoek dat ʼn skriftelike antwoord binne 30 dae verskaf word.

“Die erkenning van skoolmaatskaplike werk as ʼn spesialiteit is nie ʼn luukse nie; dit is ʼn noodsaaklikheid vir ʼn funksionerende en ondersteunende onderwysstelsel. Ons doen ʼn dringende beroep op die departement om hierdie proses te prioritiseer,” sluit Smit af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel