loading
avatar
Artikels
20 uur gelede
hoopdraers-vereer-op-internasionale-maatskaplikewerkersdag

Foto Krediet: Okay Deer

Hoopdraers vereer op Internasionale Maatskaplikewerkersdag

Deur Kyla-Ann du Toit

“In ʼn wêreld vol pyn en uitdagings is maatskaplike werkers nie net professionele persone nie, hulle is draers van hoop. Hulle seën ander met empatie, toewyding en onbaatsugtige diens, dag ná dag, selfs wanneer daar geen waarborg of beloning is nie.”

Só sê Mari Ferreira, netwerkorganiseerder by Solidariteit, oor die sewe maatskaplike werkers wat 17 Maart vanjaar op Internasionale Maatskaplikewerkersdag, as #Hoopdraers van 2026 vereer is.

Die #Hoopdraer-toekenning, wat deur Solidariteit Helpende Hand in samewerking met die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk toegeken word, bring jaarliks hulde aan maatskaplike werkers wat deur hul toewyding en diens ʼn diep en blywende verskil in hul gemeenskappe maak.

Op Internasionale Maatskaplikewerkersdag vier ons hierdie hoopdraers regoor Suid-Afrika en is dit juis ʼn geleentheid om erkenning te gee aan die onmisbare rol wat maatskaplike werkers speel in die bevordering, herstel en versterking van gemeenskappe.

Die doel van die #Hoopdraer-toekenning is om die individue wat gemeenskappe te vereer wat deur hul daaglikse werksaamhede help om ander op te bou en te versterk. Dit is ook om die ongesiene helde van ons land te vier.

“Ons het dié inisiatief in 2022 van stapel gestuur juis om erkenning te gee aan die gemeenskapshoopdraers wat daarbuite is,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk.

Die ontvangers van hierdie toekennings is vroeër vanjaar deur die publiek genomineer vir hul passievolle toewyding en hul bereidwilligheid om die ekstra myl te stap vir die mense wat hulle dien.

Volgens Christia Potgieter, hoof van maatskaplikewerkdienste by Solidariteit Helpende Hand, verteenwoordig die wenners die ware gees van diensbaarheid.

“Ons vier nie net ʼn beroep nie, maar ʼn roeping. Die sewe wenners van ons #Hoopdraer-toekenning vir 2026 verteenwoordig die stille krag van maatskaplike werkers: mense wat elke dag kies om hoop te bring waar daar moedeloosheid is en om langs die kwesbaarstes in ons gemeenskappe te stap,” sê Potgieter.

“Hulle toewyding is nie net werk nie, dit is diensbaarheid in aksie. Dit is vir ons by Solidariteit Helpende Hand ʼn besondere eer om hierdie maatskaplike werkers te vereer en erkenning te gee aan die diep menswaardigheid, deernis en volgehoue betrokkenheid waarmee hulle gemeenskappe versterk.”

Ferreira beklemtoon ook die onmisbare rol wat maatskaplike werkers in gemeenskappe speel.

“Met elke hand wat hulle vashou, elke traan wat hulle afvee en elke hart wat hulle opbou, bou hulle nie net gemeenskappe nie, hulle laat die lig van hoop skyn in die donkerste oomblikke. Met dié toekenning vier ons nie net hul prestasies nie, maar hul menslikheid.”

Volgens Potgieter het die maatskaplike werkers wat vanjaar vereer word nie net ʼn verskil gemaak nie, maar diep spore van hoop en positiewe verandering gelaat in die lewens van die mense wie hulle dien.

Die #Hoopdraer-wenners van 2026:

Francois Meyer (Vanderbijlpark)

Charnelle Findlay (Margate)

Gerda van der Merwe (Modimolle)

Wilma Vermeulen Crafford (Volksrust)

Louise van Zyl (Rustenburg)

Marinei Herselman (Oos-Londen)

Tobias Kleinhans-Le Roux (Kuilsrivier)

Solidariteit Helpende Hand en die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk doen ook ʼn beroep op gemeenskappe om Internasionale Maatskaplikewerkersdag doelbewus te vier deur ʼn woord van dank of ʼn eenvoudige gebaar van waardering aan ʼn maatskaplike werker in hul gemeenskap te rig.

Klik hier om vandag nog by die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk aan te sluit en word deel van ʼn beroepsgemeenskap wat mekaar ondersteun!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel