Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
16 uur gelede
moenie-die-pot-mis-sit-nie-verdere-oopstelling-van-aftreepot-sal-krisis-verdiep

Foto Krediet: OkayDeer

Solidariteit waarsku: Moenie die pot mis sit nie – verdere oopstelling van aftreepot sal krisis verdiep

Solidariteit waarsku teen voorstelle dat die Nasionale Tesourie moontlik verdere toegang tot die aftreepot in die tweepotstelsel kan oorweeg in gevalle waar Suid-Afrikaners in geldelike nood verkeer.

Volgens onlangse berigte word daar beplan om gesprekke te voer oor die tweede fase van die stelsel, wat moontlik sal toelaat dat individue wat hul spaarpot uitgeput het en geen ander inkomste het nie, toegang tot hul aftreegeld kan kry.

Solidariteit meen egter dit is ’n gevaarlike skuif wat die kern van aftreevoorsiening ondermyn en ’n reeds kwesbare situasie aansienlik kan vererger. Solidariteit het van meet af aan teen die gevare van só ʼn stelsel gewaarsku.

Die tweepotstelsel is ingestel om ’n balans te skep — beperkte toegang tot noodfondse deur die spaarpot, terwyl die aftreepot beskerm bly vir sy eintlike doel: finansiële sekerheid op persone se oudag.

Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van strategie by Solidariteit, is enige verdere verslapping van hierdie beginsel iets wat daardie balans in gedrang sal bring.

“’n Pensioenfonds is nie ’n gewone spaarrekening nie, maar ’n belegging in jou toekoms. Dis jou salaris ná aftrede wanneer jy nie meer ʼn inkomste kan verdien nie.

“Wanneer geld voortydig onttrek word, word jou toekomstige finansiële sekuriteit direk benadeel en skep jy vir jouself ʼn toekomstige krisis,” sê Croucamp.

Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) is meer as R79 miljard reeds sedert September 2024 uit die spaarpotte onttrek, met meer as 5,6 miljoen aansoeke wat verwerk is.

Croucamp glo hierdie syfers wys hoe groot die finansiële druk op huishoudings is — maar ook hoe vinnig aftreegeld kan verdwyn wanneer toegang makliker gemaak word.

Met brandstofpryse wat na verwagting skerp gaan styg en lewenskoste wat aanhou toeneem, erken Solidariteit nietemin dat baie Suid-Afrikaners finansieel onder geweldige druk verkeer.

Juis daarom waarsku die vakbond dat die versoeking om nog verder aan aftreegeld te raak, al hoe groter gaan word. Croucamp beveel dus sterk aan dat mense eers kundiges raadpleeg voor hulle dit oorweeg.

Hy het verder daarop gewys dat gereelde onttrekkings dit bykans onmoontlik maak om voldoende vir aftrede te voorsien, wat armoede op persone se oudag as ’n werklike gevaar laat toeneem.

Ander bedryfsrolspelers soos die Vereniging vir Spaar en Beleggings in Suid-Afrika (Asisa) het ook gewaarsku dat toegang tot die aftreepot die bewaring van fondse sal erodeer en uiteindelik tot groter finansiële swaarkry sal lei.

Voorstelle wat deur ander vakbonde ondersteun word om toegang verder uit te brei, mag volgens Croucamp dalk goed bedoel voorkom, maar skep juis ’n baie gevaarlike presedent.

“Elke verdere toegewing maak die volgende een makliker. Uiteindelik word aftreegeld ’n noodfonds — en nie meer ’n waarborg van waardige aftrede nie,” het hy gesê.

Solidariteit beklemtoon dat Suid-Afrikaners werklike ekonomiese verligting nodig het — nie beleidsmaatreëls wat hul toekoms in gevaar stel nie.

Die vakbond doen ’n beroep op die regering om eerder op die volgende te fokus:

  • Die verligting van stygende brandstof- en lewenskoste
  • Werkskepping en ekonomiese groei
  • Volhoubare en doelgerigte ondersteuning vir kwesbare huishoudings

Volgens Croucamp is dit in ’n tyd van ekonomiese onsekerheid belangriker as ooit dat mense verantwoordelik en oordeelkundig met hul aftreegeld omgaan.

“Aftreegeld is nie ’n noodklep vir beleidsmislukkings nie. Dit is ’n lewenslyn vir jou oudag. As ons dit nou begin uitput, gaan die gevolge vir dekades gevoel word.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel