Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
5 uur gelede
sapd-bestuur-moet-aan-misdaadbekamping-en-nie-diversiteit-gemeet-word-2

Foto Krediet: Verskaf

SAPD-bestuur moet aan misdaadbekamping en nie diversiteit gemeet word

Solidariteit sê die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se besluit om diversiteitsbestuur deel van senior bestuur se prestasiebeoordeling te maak, beklemtoon die dringende behoefte om die polisiebestuur se prioriteite te heroorweeg te midde van Suid-Afrika se ernstige misdaadkrisis.

Dié reaksie volg nadat die SAPD se waarnemende Nasionale Kommissaris ʼn omsendbrief uitgereik het waarvolgens transformasie- en diversiteitsbestuur, met spesifieke verwysing na vroue en persone met gestremdhede, deel van senior bestuurders se posbeskrywings én die prestasieverbeteringsproses (PEP) gemaak word.

Volgens Theunis van Staden, koördineerder vir Solidariteit se openbare sektor, kom die omsendbrief op ʼn tydstip wanneer polisiekenners dit eens is dat die onthullings voor die Madlanga-kommissie van ondersoek die omvang van die SAPD se leierskaps-, bestuurs- en integriteitskrisis blootgelê het.

“Die land beleef een van die ernstigste veiligheidskrisisse sedert 1994. Suid-Afrika se geweldsmisdaad word gereeld met dié van ʼn lae-intensiteit-oorlogsone vergelyk. Juis daarom behoort elke prestasiemaatstaf vir senior polisiebestuur direk verband te hou met meriete in hul vermoë om misdaad te bekamp en die polisiediens se kernmandaat uit te voer.

“Die Madlanga-kommissie maak dit duidelik dat beleidsveranderinge in polisiebestuur ʼn absolute noodsaaklikheid is. Die fokus behoort te wees op die herstel van professionele bestuur, aanspreeklikheid en die publiek se vertroue en nie op bykomende bestuursdoelwitte wat nie direk met misdaadbekamping verband hou nie,” sê Van Staden.

Volgens hom is prestasiebeoordeling boonop veel meer as ʼn administratiewe proses.

“Dit waaraan bestuur gemeet word, bepaal waarop bestuur fokus. Wanneer ander beleidsdoelwitte deel van prestasie-ooreenkomste vorm, neem dit onvermydelik aandag weg van die kernverantwoordelikhede waarvoor senior polisiebestuur uiteindelik aanspreeklik behoort te wees.

“Ons sou verwag dat senior bestuur gemeet word aan hul vermoë om geweldsmisdaad te bekamp, ondersoeke te verbeter, korrupsie binne die SAPD uit te wis, polisielede beter te ondersteun en openbare vertroue in die polisiediens te herstel.”

“Die vraag is eerder waarom dit deel van senior bestuur se prestasiemeting moet wees terwyl Suid-Afrika ʼn ongekende veiligheidskrisis beleef. In die huidige omstandighede behoort elke prestasiemaatstaf die SAPD se vermoë te versterk om sy grondwetlike mandaat uit te voer.”

Volgens Solidariteit beoordeel gewone Suid-Afrikaners die SAPD nie aan die hand van interne bestuursaanwysers nie, maar volgens of hulle veilig is, of misdadigers vasgetrek word en of die publiek weer vertroue in die polisiediens kan hê.

Klik hier vir die SAPD-omsendskrywe ter sprake.
Klik hier vir Theunis van Staden se uitgebreide ontleding.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel