loading
avatar
Artikels
8 uur gelede
rasvrye-suid-afrika-teen-2030

Foto Krediet: Solidariteit

Rasvrye Suid-Afrika teen 2030

Deur Nico Strydom

Meer as drie dekades nadat Suid-Afrika ʼn nierassige Grondwet aanvaar het, verkeer die land steeds in ʼn bestel waarin ras een van die belangrikste maatstawwe vir beleid, ekonomiese geleenthede en staatsbesluitneming bly.

Rasgebaseerde wetgewing, wat aanvanklik as ʼn tydelike regstellende maatreël bedoel was, het met verloop van tyd ʼn permanente deel van die staat se beleidsraamwerk geword.

Solidariteit meen dat Suid-Afrika kan én moet teen 2030 ʼn rasvrye bedeling bereik. Die organisasie het daarom ʼn omvattende padkaart, wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) opgestel is, bekend gestel.

Die verslag, “Rasvry teen 2030”, bied konkrete en realistiese voorstelle om Suid-Afrika geleidelik van rasgebaseerde wetgewing na werklike bemagtiging te laat oorgaan – ʼn benadering wat op behoefte, ekonomiese groei en werkskepping gegrond is.

Waar is die eindstreep?

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, is die kernvraag eenvoudig:

“Regstellende aksie en soortgelyke maatreëls was nog altyd veronderstel om tydelik van aard te wees. Die vraag is dus: Waar is die eindstreep?”

Mulder meen dat die afgelope drie dekades getoon het dat rassewetgewing nie daarin geslaag het om armoede, werkloosheid en ongelykheid wesenlik te verminder nie. Suid-Afrika sit steeds met rekordwerkloosheid, swak ekonomiese groei en miljoene mense sonder realistiese geleenthede om vooruit te kom.

Volgens die verslag is die probleem nie dat ongelykhede nie aangespreek moet word nie, maar dat die huidige instrumente nie die gewenste uitkomste lewer nie. Solidariteit meen die fokus behoort daarom van ras na werklike bemagtiging te verskuif, met groter klem op armoedeverligting, opleiding, jeugwerkloosheid, belegging en ekonomiese groei.

Ramaphosa hou by rassebeleid

Die debat het onlangs weer opgevlam nadat president Cyril Ramaphosa sy regering se transformasiebeleid verdedig het. Hy het aangevoer dat swart Suid-Afrikaners steeds ʼn groter aandeel in die land se ekonomie en welvaart moet verkry. Volgens Ramaphosa bly transformasie noodsaaklik om historiese ongelykhede reg te stel.

Solidariteit meen egter dat hierdie benadering Suid-Afrika in ʼn siklus van voortdurende rasseklassifikasie vasgevang hou.

Beleid behoort eerder aan sy uitkomste gemeet te word, nie aan die bedoelings waarmee dit ingestel is nie. Volgens die SNI wys die land se swak ekonomiese prestasie, hoë werkloosheid en volgehoue armoede dat die huidige stelsel nie sy doel bereik nie.

“Die fokus moet van ras na werklike bemagtiging verskuif. Suid-Afrikaners benodig nie nóg rasseklassifikasie nie; hulle benodig werk, ekonomiese groei, veiligheid, funksionerende infrastruktuur en geleenthede. Ons moet begin fokus op die telbord eerder as op die spanfoto.”

Hofstryd oor voorkeurverkryging

Die “Rasvry teen 2030”-veldtog vorm deel van ʼn breër strategie waarmee Solidariteit verskeie stukke van rasgebaseerde wetgewing in die howe en in die openbare debat uitdaag.

Een van die belangrikste sake is die organisasie se grondwetlike uitdaging van die Wet op Openbare Verkryging. Solidariteit waarsku dat Suid-Afrika nie langer die vernietigende gevolge van rasgedrewe voorkeurverkryging en die voortdurende uitbreiding daarvan kan bekostig nie.

Volgens die organisasie gaan dié saak nie bloot oor wetgewing nie, maar ook oor ekonomiese groei, dienslewering en Suid-Afrikaners se reg op ʼn funksionerende staat.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI, raak voorkeurverkryging veel meer as net ondernemings.

“Dit bepaal wat die staat vir skole, hospitale, paaie, elektrisiteit en infrastruktuur betaal. Wanneer ras en politieke doelwitte belangriker as waarde vir geld word, is dit gewone Suid-Afrikaners wat uiteindelik die prys betaal.”

Solidariteit voer verder aan dat rasgedrewe verkryging gunstige omstandighede vir tendernetwerke en middelmanne skep, terwyl dit mededinging beperk en staatsuitgawes verhoog.

Internasionale veldtog

Solidariteit het die afgelope maande sy standpunt oor Suid-Afrika se rasgebaseerde beleid aan buitelandse regerings, internasionale sakelui en ander belanghebbendes verduidelik. Die organisasie voer aan dat bemagtigingswetgewing veral jong, arm Suid-Afrikaners uitsluit wat nie oor politieke of ekonomiese netwerke beskik nie, en dat die beleid belegging en werkskepping benadeel.

Volgens Solidariteit is die doel nie om historiese ongelykhede te ontken nie, maar om alternatiewe voor te stel wat armoede aanspreek sonder om mense voortdurend volgens ras te klassifiseer. Die veldtog “Rasvry teen 2030” is daarom nie bloot kritiek op bestaande beleid nie, maar ʼn voorstel vir hoe Suid-Afrika oor die volgende vyf jaar geleidelik na ʼn behoeftegebaseerde stelsel kan oorgaan.

Die padkaart stel onder meer voor dat rassewetgewing ʼn duidelike einddatum kry, dat groter gebruik van werknemersaandeleskemas gemaak word, dat ekwiteitsbydraes eerder as tradisionele SEB-meganismes oorweeg word en dat die fokus op werklike sosio-ekonomiese nood geplaas word.

Solidariteit meen Suid-Afrika sal eers werklik nierassig wees wanneer geleenthede, ondersteuning en ekonomiese beleid nie meer deur ras bepaal word nie, maar deur behoefte, meriete en die vermoë om ekonomiese groei en werkskepping te bevorder.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel