Fotokrediet: Jaco Kleyhans/Facebook
Gekopieër
‘Waarom Solidariteit weer Europa toe is” – Jaco Kleynhans
Jaco Kleynhans, hoof van internasionale skakeling by Solidariteit, skryf in sy onlangse Maroela Media-artikel oor waarom Solidariteit steeds doelbewus bande bou met politici, beleidmakers, organisasies en meningsvormers in Europa.
Volgens Kleynhans is Solidariteit se internasionale skakeling nie ʼn nuwe strategie nie. Die Solidariteit Beweging bou reeds sedert 2004 aan verhoudinge in Europa en die Verenigde State. Hierdie bande het ten doel om internasionale rolspelers van onder meer Suid-Afrika se rasgebaseerde beleid, ekonomiese uitdagings, veiligheidsituasie en sy veranderende geopolitieke posisie bewus te maak.
Tydens sy jongste besoek aan Brussel het Kleynhans onder meer Solidariteit se pleidooi vir ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030 aan Europese rolspelers voorgelê. Solidariteit voer aan dat beleid op sosio-ekonomiese behoefte, gehalte-onderwys, ekonomiese groei en werkskepping moet fokus eerder as om Suid-Afrikaners voortdurend volgens ras te kategoriseer.
Kleynhans beklemtoon egter dat internasionale steun nie die werk wat plaaslik gedoen word, kan vervang nie. Instellings soos Akademia en Sol-Tech, gemeenskapsveiligheid en die uitbouing van professionele netwerke en ander gemeenskapsinstellings vorm alles deel van ʼn strategie waarvolgens Afrikaners sélf verantwoordelikheid vir hul toekoms neem. Internasionale steun kan hierdie werk versterk, maar kan dit nie namens Afrikaners doen nie.
Sy boodskap is uiteindelik dat Afrikaners se toekoms steeds in Suid-Afrika lê. Daarom moet daar plaaslik gebou, georganiseer en onderhandel word, terwyl Solidariteit terselfdertyd internasionale bondgenote vind wat hervorming en ʼn volhoubare toekoms in Suid-Afrika kan ondersteun.
Lees hier Jaco Kleynhans se volledige artikel op Maroela Media asook oor sy onlangse besoek aan Europa.