Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Rondetafelgesprek onder Solidariteit-toesig baan weg vir rooiseël-oplossing
Solidariteit verwelkom die positiewe afloop van vandag se rondetafelgesprek oor die voortslepende probleme met die uitreiking van rooiseëlsertifikate aan ambagslui.
Belangrike rolspelers het aan die noodsaaklike gesprek deelgeneem en volgens Solidariteit was daar sterk toewyding om die probleme in die sertifiseringsproses, wat ambagslui reeds so lank kniehalter, op te los.
Sekere sektorale onderwys- en opleidingsowerhede (SETA’s) het egter nie op Solidariteit se uitnodiging gereageer nie en dus ook nie die gesprek bygewoon nie.
“Die gesprek het bewys daar is ʼn bereidwilligheid om hierdie probleem die hoof te bied. Ons wil eerstens toegewyde aandag aan die bestaande agterstand met uitreiking van sertifikate sien, terwyl die sertifiseringsproses terselfdertyd meer vaartbelyn gemaak word.
“Duidelike rolle en doelwitte is hiervoor gestel,” sê Stef Pretorius, koördineerder van Solidariteit se Ambagnetwerk.
Die gesprek volg op Solidariteit se suksesvolle regstappe namens 87 gekwalifiseerde ambagslui wie se rooiseëlsertifikate maande lank uitstaande was. Al 87 sertifikate is intussen uitgereik en aan die studente oorhandig.
Die Gehalteraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) moet nou die voorstelle en uitkomste van die rondetafelgesprek in ʼn gekonsolideerde plan vervat en dit ingevolge ʼn hofbevel voor 28 Oktober by die hof en Solidariteit se regspan indien.
Solidariteit hou intussen sy regsopsies oop teen die SETA’s wat nie aan die proses deelgeneem het nie, insluitend moontlike stappe weens minagting van die hofbevel.
“Ons het goeie vordering gemaak, maar die werk is nog nie klaar nie. Die doel bly ʼn sertifiseringsproses waarin ambagslui hul rooiseëlsertifikate betyds ontvang sonder die nodigheid van regstappe,” sê Pretorius.