Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
9 uur gelede
solidariteit-verkla-amazon-by-internasionale-liggaam-oor-100-uitsluiting-van-wit-suid-afrikaners

Fotokrediet: ChatGPT

Solidariteit verkla Amazon by internasionale liggaam (Oeso)oor 100%-uitsluiting van wit Suid-Afrikaners

Sien Solidariteit se Oeso-klagte oor Amazon Web Services hier aangeheg.
Klik hier vir ʼn dokument wat Amazon Web Services se opheffingsprogram en die raskriteria daarvan verduidelik.
Klik hier vir ʼn vloeidiagram wat die Amerikaanse proses vir ʼn Oeso-klagte uiteensit.

Solidariteit het Amazon Web Services vandag in Washington, DC, by die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso) verkla oor sy uitsluiting van ondernemings met enige wit eienaarskap van ʼn ontwikkelingsprogram vir Suid-Afrikaanse kleinsakeondernemings.

Volgens Solidariteit is Amazon se 100%-rasuitsluiting ʼn oortreding van die Oeso-riglyne vir multinasionale ondernemings oor verantwoordelike sakegedrag.

Van die 52 lande wat aan die Oeso deelneem en die riglyne onderskryf, is die Verenigde State van Amerika een.

Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, gaan die 100%-uitsluiting ook verder as wat selfs enige Suid-Afrikaanse wet vereis. Solidariteit voer verder in sy klagte aan dat die rasuitsluiting ʼn oortreding van konvensies van die Verenigde Nasies is.

Hermann sê Solidariteit gaan die Amerikaanse regering ook oor die klagte en die beweerde oortreding inlig.

“Die Amerikaanse regering plaas tereg druk op Suid-Afrika om rassewette wat ʼn handelsbeperking op Amerikaanse ondernemings plaas, te skrap, maar ʼn Amerikaanse reus gebruik rasgebaseerde vereistes om handelsbeperkings in Suid-Afrika af te dwing.

“Indien Amazon skuldig bevind word, gaan Solidariteit ook verdere optrede van die Amerikaanse regering vra,” sê Hermann.

Oeso stel standaarde vir hoe internasionale ondernemings behoort op te tree, onder meer ten opsigte van menseregte, arbeidsverhoudinge en diskriminasie.

Die klagte teen Amazon Web Services South Africa (AWS) is by Oeso se Amerikaanse nasionale kontakpunt in Washington DC ingedien, aangesien Amazon se hoofkantoor in die VSA gesetel is.

Die AWS-program waaroor die klagte handel, word beskryf as ʼn ontwikkelings- en versnellingsprogram vir ondernemings wat hul AWS-besigheid wil uitbou en as vennote in die Amazon Partner Network wil groei.

Die eerste toelatingsvereiste is egter dat ʼn onderneming 100% in swart besit moet wees.

Ondernemings met selfs gedeeltelike wit eienaarskap word dus outomaties uitgesluit, ongeag hul grootte, behoefte, potensiaal of die samestelling van hul personeel.

Hermann sê dit is veral absurd aangesien Amazon hierdie absolute uitsluiting as inklusiwiteit aanbied. Wit en swart ondernemers mag dus nie saamwerk nie.

Volgens Solidariteit skep die 100%-vereiste ʼn ondeurdringbare rasseversperring.

Dit berus op die valse uitgangspunt dat slegs ondernemings met uitsluitlik swart eienaarskap ondersteuning verdien en dat die behoefte en potensiaal van ander kleinsakeondernemings bloot weens hul eienaars se velkleur geïgnoreer kan word.

Amazon se verweer dat hy hom op Suid-Afrika se swart ekonomiese bemagtigingsbeleid beroep, is volgens Solidariteit geensins voldoende nie. Daar is geen Suid-Afrikaanse wet wat 100% swart aandeelhouding afdwing nie.

Die Oeso-riglyne bepaal ook dat multinasionale ondernemings steeds menseregte moet eerbiedig, selfs waar plaaslike regerings versuim om dit behoorlik te beskerm.

Solidariteit voer verder aan dat die program ook nie aan Suid-Afrika se grondwetlike vereistes vir rasgebaseerde programme voldoen nie.

Solidariteit versoek dus die Amerikaanse nasionale kontakpunt om bemiddeling tussen die partye te fasiliteer. Indien geen ooreenkoms bereik word nie, word Oeso versoek om aan te beveel dat Amazon die rasvereistes vir deelname aan die program skrap.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel