Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Só sal nuwe SEB-verkrygingsreëls jou raak
Deur Nico Strydom
Solidariteit se hofsaak teen die grondwetlikheid van Suid-Afrika se Wet op Openbare Verkryging gaan oor veel meer as nóg ʼn regsgeding oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB).
Dit handel oor hoe die regering belastinggeld bestee, wie toegang tot staatskontrakte kry en of die staat ook in die toekoms die beste diens teen die beste prys sal kan aankoop.
Die Konstitusionele Hof het onlangs argumente aangehoor in Solidariteit en ander partye se aansoek waarin die grondwetlikheid van die wet bevraagteken word.
Intussen het die Nasionale Tesourie nuwe konsepregulasies gepubliseer wat die bestaande verkrygingstelsel, volgens Solidariteit, nóg verder verskerp.
Die voorgestelde regulasies bepaal dat staatsinstellings minstens 30% van sekere kontrakte vir ondernemings in swart besit moet reserveer. Ondernemings wat met die staat sake wil doen, sal boonop moet bewys dat minstens 40% van hul eie aankope by ondernemings met hoofsaaklik swart eienaarskap gedoen word.
Volgens Solidariteit is die grootste verandering dat ondernemings wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, heeltemal van staatskontrakte uitgesluit kan word.
Die vraag is dus nie meer wie die beste produk of diens teen die beste prys kan lewer nie, maar ook wie aan die voorgeskrewe bemagtigingsvereistes voldoen.
Solidariteit voer aan dat die Grondwet vereis dat openbare verkryging billik, deursigtig, mededingend en koste-effektief moet wees.
Die nuwe regulasies ondermyn volgens Solidariteit juis hierdie beginsels deur rasvereistes bo waarde vir geld te plaas. Die regering beperk daarmee doelbewus die aantal ondernemings wat vir staatskontrakte kan meeding.
Wanneer die staat nie die bekostigbaarste of doeltreffendste verskaffer kan gebruik nie, styg die koste van projekte. Dié ekstra uitgawes word uiteindelik deur belastingbetalers gedra of beteken dat minder dienste uit dieselfde begroting gelewer kan word.
Solidariteit waarsku ook dat voorkeurverkryging ruimte skep vir sogenaamde tussengangers of tenderpreneurs.
In plaas daarvan dat die staat regstreeks by vervaardigers of diensverskaffers aankoop, word bykomende ondernemings bloot ingevoeg om aan bemagtigingsvereistes te voldoen.
Hierdie ondernemings voeg nie noodwendig waarde toe nie, maar verhoog wel die uiteindelike koste.
Die Nasionale Tesourie het self in die verlede beraam dat bedrog, opgeblaasde pryse en ondoeltreffende verkryging die staat jaarliks miljarde rande kos.
Volgens Solidariteit kan die voorgestelde regulasies hierdie probleem verder vererger.
Vir baie Solidariteit-lede is die gevolge prakties. Ondernemings wat met die staat wil sake doen, kan aan nóg strenger bemagtigingsvereistes onderwerp word. Ondernemings sal hul voorsieningskettings moet aanpas om aan die voorgeskrewe aankooppersentasies te voldoen. Dit kan administratiewe koste verhoog en veral kleiner ondernemings benadeel wat nie oor groot nakomingsafdelings beskik nie.
Volgens Solidariteit beteken stadiger ekonomiese groei, duurder staatsprojekte en minder mededinging uiteindelik minder werkgeleenthede en swakker ekonomiese vooruitsigte.
Die hofsaak gaan daarom nie bloot oor SEB of voorkeurverkryging nie. Dit gaan oor die vraag of Suid-Afrika sy ekonomie op mededinging, meriete en koste-effektiwiteit wil bou, of op toenemende rasvoorskrifte.
Die Konstitusionele Hof se uiteindelike uitspraak sal nie net die toekoms van die Wet op Openbare Verkryging beïnvloed nie, maar kan ook rigting gee oor hoe ver die staat grondwetlik mag gaan om rasgebaseerde vereistes in openbare verkryging toe te pas.