loading
avatar
Artikels
6 uur gelede
onderwysertekort-staat-maak-onderwysberoep-onaantreklik

Foto Krediet: OkayDeer

Onderwysertekort: Staat maak onderwysberoep ‘onaantreklik’

Robin-Lee Maré

Suid-Afrika staan op die drumpel van ʼn ernstige onderwyskrisis namate duisende ervare onderwysers die beroep oor die volgende paar jaar weens aftrede sal verlaat.

Terselfdertyd neem die aantal skoolgaande kinders toe, terwyl begrotingsdruk, administratiewe wanbestuur en swak werkomstandighede dit al moeiliker maak om nuwe onderwysers te lok én in die beroep te behou.

Volgens projeksies sal minstens 19% van die openbare onderwyskorps wat in 2021 in diens was, teen 2030 afgetree het. Indien die huidige tendense voortduur, sal groter klasse, minder individuele aandag en toenemende druk op die oorblywende onderwysers die onvermydelike gevolg wees.

Hoewel daar steeds belangstelling onder matrikulante is om onderwys te studeer, wys Solidariteit se ontleding van sy Skoolverlatersverslae dat belangstelling alleen nie voldoende is om die groeiende tekort aan te spreek nie. Die werklike uitdaging is om studente suksesvol deur hul opleiding te kry, hulle in skole te plaas en hulle in die beroep te behou.

Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, sê die staat se onvermoë om sy basiese verantwoordelikhede na te kom, maak die onderwysberoep al hoe minder aantreklik.

“Die probleem is nie dat Suid-Afrika nie jong mense het wat onderwys wil studeer nie. Die probleem is die staat wat hulle nie die vertroue gee dat hulle ʼn stabiele en volhoubare loopbaan betree nie. Wanneer onderwysers maande lank wag vir poste om gevul te word, salarisse of toewysings vertraag word en skole voortdurend in onsekerheid verkeer, stuur dit ʼn uiters negatiewe boodskap aan voornemende onderwysers.”

Botha sê die aanhoudende administratiewe probleme by provinsiale onderwysdepartemente, waaronder die Gautengse Departement van Onderwys se onvermoë om skole betyds van personeeltoewysings en befondsing te voorsien, verdiep dié onsekerheid verder.

“Ons sien jaar ná jaar hoe skole weke of selfs maande lank moet wag vir poste om gevul te word. Skoolhoofde weet nie hoeveel personeel hulle gaan hê nie, terwyl gekwalifiseerde onderwysers sonder werk sit. Só ʼn stelsel ontmoedig jong mense om die beroep te kies.”

Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), sê Suid-Afrika beskik wel oor ʼn redelike stroom onderwysgegradueerdes, maar die openbare onderwysstelsel slaag nie daarin om hulle te behou nie.

“Slegs sowat 58% tot 60% van onderwysgegradueerdes betree tans die openbare onderwysstelsel. Dit dui nie op ʼn tekort aan talent nie, maar op ʼn stelsel wat nie genoeg poste kan finansier of aantreklike werkomstandighede kan bied nie.”

Volgens Prinsloo toon Solidariteit se Skoolverlatersverslae dat onderwys steeds onder die gewildste studierigtings tel. In 2023 was dit selfs die gewildste studierigting onder respondente. Hoewel die belangstelling in 2024 effens afgeneem het, bly dit steeds relatief sterk.

“Die pyplyn lek op verskeie plekke. Daar is belangstelling onder matrikulante, maar nie almal kry toegang tot opleiding nie. Nie almal voltooi hul studies nie, en baie wat kwalifiseer, beland nooit voor ʼn klaskamer nie of verlaat die beroep binne ʼn paar jaar.”

Solidariteit waarsku dat die oplossing veel verder strek as om bloot meer onderwysers op te lei.

Volgens Botha moet die regering dringend administratiewe wanbestuur aanspreek, poste betyds finansier, provinsiale onderwysdepartemente beter bestuur en werkomstandighede verbeter indien Suid-Afrika die dreigende onderwyserstekort wil afweer.

“Ons kan nie verwag jong mense moet hul loopbane aan die onderwys toewy terwyl die staat voortdurend bewys hy kan nie eens sy bestaande onderwysers behoorlik ondersteun nie. As die regering ernstig is oor die toekoms van onderwys, moet hy begin deur die beroep weer ʼn beroep van stabiliteit, sekerheid en waardigheid te maak,” sluit Botha af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel