Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Finland se kundigheid in SA skole: Bou tog eers meer skole vóór ons dink aan herverdeel
Leré Nel
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) se besluit om kundiges uit Finland aan te stel om Suid-Afrika se onderwyserverspreidingsmodel te herevalueer, is nie noodwendig verkeerd nie.
Tog is die werklikheid dat herverdeling alleen nie die DBO se diepgewortelde probleme gaan oplos nie. Só ʼn benadering kan dalk verligting by sommige skole bring, maar sal waarskynlik net meer druk op die oorblywende onderwysers by die skole waar hierdie onderwysers weggeneem word, plaas.
Só sê Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), in reaksie op die aankondiging dat die DBO, met befondsing vanaf die Europese Unie (EU), ʼn eenjaar-toetsprojek van stapel stuur om die posvoorsieningsnorme te hersien.
“Eerstens moet ons kennis neem daarvan dat dit nie Suid-Afrika se geld is wat daarvoor gebruik word nie, maar die EU se geld,” noem Prinsloo.
“Die argument kan dus gemaak word dat hierdie projek juis hoëgehalte-onderwys kan bevorder sonder om belastingbetalers se sak te ruk.”
Hierdie verskuiwing van poste het reeds aan die einde van 2025 begin. Prinsloo verduidelik dat onderwysers vir die staat werk, nie vir die skool nie. Net soos enige werkgewer sy personeel na ʼn ander afdeling kan oorplaas (mits die korrekte prosedures gevolg word), mag die staat dit ook doen. Daar is dus niks inherent fout met die verskuiwing van onderwysers nie. Prinsloo wys ook daarop dat die projek net ʼn toetsprojek is wat sal toets of ʼn nuwe verdeling van poste voordelig vir die onderwysstelsel sal wees.
Sy voeg by dat die departement se fokus op klaskamerassistente en meer individuele aandag ook ʼn positiewe aspek van die plan is.
“Hulle verwys spesifiek na assistente wat in klasse geplaas word. Daar is dus meer intensiewe en individuele onderrig, wat impliseer dat hoëgehalte-onderrig verseker word.”
Die DBO dui aan dat skole met dieselfde leerdergetalle nie noodwendig dieselfde aantal onderwysers sal hê nie, aangesien die spesifieke behoeftes van elke skool in ag geneem sal word. “Ons verwelkom hierdie wegbeweeg van die ‘one size fits all’-benadering.”
Prinsloo lewer wel kritiek op die idee dat herverdeling alleen voldoende is om die onderwyskrisis aan te spreek. “Daar is tans ʼn duidelike tekort aan goed opgeleide onderwysers in die stelsel. Die fokus moet nie wees om te ‘werk met wat ons het’ nie, maar eerder om te bepaal wat die werklike onderwysbehoeftes is en dan onderwysers daarvolgens op te lei en aan te stel sodat daar in hierdie behoeftes voorsien kan word.
“Die prioriteite moet wees om te streef na kleiner klasgroottes, meer individuele aandag vir leerders, spesialisvakke en ʼn groter fokus op spesiale behoeftes,” sê Prinsloo. “Suid-Afrika het wel ʼn herverdeling van onderwysposte nodig, maar dit moet nie geskied rondom die poste wat ons hét nie – eerder rondom die werklike behoeftes van leerders. Wanneer meer onderwysers eers opgelei word volgens die werklike behoeftes, sal herverdeling in elk geval as ʼn natuurlike gevolg plaasvind.”
Maar selfs dít is ʼn stap te ver vooruit. Die fisiese kapasiteit van die stelsel moet eers aangespreek word.
“Voordat ons die bogenoemde benadering kan volg, moet ons na die fisiese behoeftes kyk: die hoeveelheid skole,” maan Prinsloo.
Sy wys daarop dat daar in 2025 reeds tussen drie en vier skole te min in Gauteng was, gegewe die aantal graad 1- en graad 8-leerders wat nie geplaas kon word nie.
“Daar kort nog drie tot vier megaskole wat elk sowat 1 500 kinders kan akkommodeer. Megaskole is natuurlik nie wenslik nie – daar moet eerder nóg meer as drie of vier kleiner skole gebou word.
“Alhoewel daar duidelik goeie bedoelings agter hierdie nuwe herverdelingsprojek is, is die eerste stap beslis om éérs nuwe skole te bou, terselfdertyd genoeg onderwysers op te lei en dán volgens die bogenoemde behoeftes die aantal onderwysers per skool te bepaal,” sê Prinsloo.