loading
avatar
Artikels
4 dae gelede
regering-se-planne-vir-podsendingregulering-net-nog-n-gryp-na-staatsbeheer

Foto Krediet: Unsplash

Regering se planne vir podsendingregulering net nóg ʼn gryp na staatsbeheer

Deur Kyla-Ann du Toit

Die regering se planne om sosialemedia-podsendings ingevolge nuwe wetgewing te reguleer, het vrae laat ontstaan oor vryheid van spraak, staatsbeheer en die toekoms van digitale media in Suid-Afrika.

Volgens ʼn berig in Maroela Media het Suid-Afrika se minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Solly Malatsi, bevestig dat daar tans oorweeg word om podsendings onder nuwe konsepwetgewing in te sluit. Hy het in antwoord op ʼn parlementêre vraag gesê dat podsendings tans nie deur enige bestaande wet gereguleer word nie, aangesien die Wet op Elektroniese Kommunikasie reeds in 2005 gepromulgeer is en die Uitsaaiwet reeds sedert 1999 van krag is.

Malatsi het verwys na die witskrif oor oudio- en oudiovisuele mediadienste en aanlyn veiligheid. Volgens hom word daar oorweeg of podsendings deel van ʼn nuwe konsepwetgewing moet wees. Hy het aangevoer dat enige regulering nie vryheid van spraak sal inperk nie en het opgemerk dat daar reeds afsonderlike konsepregulasies oor haatspraak en haatmisdade gepubliseer is.

Hoewel die regering aanvoer dat die voorgestelde regulering nodig is om verouderde wetgewing by ʼn digitale werklikheid aan te pas, wek dit steeds kommer onder digitale inhoudskeppers en die breër burgerlike samelewing.

Podsendings het die afgelope dekade ontwikkel tot ʼn belangrike platform vir onafhanklike joernalistiek, burgerlike deelname en openbare debat, juis omdat dit minder gebonde is aan tradisionele uitsaaireëls.

Mari Ferreira, organiseerder van Solidariteit se Kommunikasie- en Bemarkingsnetwerk, sê enige vorm van regulering moet uiters versigtig benader word.

“Podsendings speel ʼn belangrike rol in burgerlike deelname en openbare debat, en dra wesenlik by tot vryheid van spraak as ʼn grondwetlike reg. Enige regulering moet hierdie beginsel respekteer en nie kreatiewe of onafhanklike uitdrukking ondermyn nie,” sê sy.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie en digitale tegnologie is reeds sedert sy stigting in Julie 2024 aktief besig met die idee van podsendingregulering, met die mees onlangse voorstel wat in April 2025 voorgelê is.

Ferreira erken dat bestaande wetgewing nie die digitale media-omgewing voldoende aanspreek nie, maar waarsku dat nuwe beleid onder geen omstandighede tot staatsbeheer oor inhoud of debat mag lei nie.

“Die nuwe beleid behoort ʼn gebalanseerde benadering te volg wat die publiek beskerm, sonder om staatsbeheer oor inhoud of debat te vestig,” voeg sy by. “Indien regulering wel toegepas word, moet dit berus op duidelike, objektiewe en grondwetlik-belynde definisies van skadelike inhoud om arbitrêre beperkings te voorkom.”

ʼn Kernvraag is hoe “skadelike inhoud” gedefinieer gaan word en wie uiteindelik die mag sal hê om te bepaal watter podsendings gereguleer word. Kritici vrees dat vae definisies en breë bevoegdhede maklik misbruik kan word om kritiese stemme stil te maak of politieke narratiewe te manipuleer.

Volgens Ferreira is dit juis waarom die beleidsfinaliseringsproses nie agter geslote deure mag plaasvind nie.

“Die beleidsfinaliseringsproses moet oop, deursigtig en inklusief wees, met betekenisvolle insette van digitale inhoudskeppers, die kreatiewe bedryf en die breër burgerlike samelewing,” sê sy.

Terwyl die regering volhou dat die doel van podsendingregulering is om die publiek te beskerm en verouderde wetgewing by ʼn digitale werklikheid aan te pas, bestaan die risiko egter dat vae definisies tot onregverdige inperking van vryheid van spraak kan lei.

Waar eindig beskerming en waar begin sensuur?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel