Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Goeie nuus oor Denel-betalings, maar gevaarligte flikker
Bekommernis oor Denel-werknemers se salarisse het voorlopig plek gemaak vir verligting nadat die wapenvervaardiger wél die maand se salarisse kon uitbetaal.
Dit ondanks die feit dat ʼn dringende algemene vergadering vroeër die week belê is om die moontlike wanbetaling van salarisse by Denel Dynamics en Denel PMP te bespreek.
“In die geval van Denel het ons in die verlede gesien hoe leë beloftes werknemers sonder ʼn inkomste laat.
“Destyds het dit die ingryping van Solidariteit en hofsake geverg om die situasie ná heelwat swaarkry vir werknemers te probeer beredder,” sê Derek Mans, sektorkoördineerder by Solidariteit.
Hy meen dat dit nóú ook volgehoue druk van Solidariteit was wat as wekroep vir Denel gedien het om die besluit rondom salarisse te heroorweeg.
“Ons vergeet nie wat in die verlede gebeur het nie, en die gevaarligte flikker nou weer by Denel. Dringende en ingrypende besluite oor Denel se toekoms sal nodig wees om weer enige mate van vertroue te regverdig,” sê Mans.