Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Waak teen werkloosheid en vermy om te stagneer: Jou loopbaan as langtermynprojek
Deur Reon Janse van Rensburg
Werkloosheid in Suid-Afrika bly ʼn groot uitdaging veral onder jongmense. Volgens die Kwartaallikse Arbeidsmagopname van Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die werkloosheidsyfer in die tweede kwartaal van 2025 toegeneem na ongeveer 33,2% van alle werksoekers.
Onder jongmense (15–34 jaar) het die werkloosheidsyfer in die eerste kwartaal van 2025 gestyg tot 46,1%, wat aandui dat baie jongmense nie net sukkel om werk te kry nie, maar ook om volhoubare loopbane te bou. Hierdie hoë werkloosheidsyfer beteken dat dit nie genoeg is om net “ʼn werk” te hê nie, maar dat dit net so belangrik is om jou loopbaan proaktief te beplan en jou vaardighede voortdurend te ontwikkel.
Wat gebeur as jy nie proaktief is?
Begin waar jy kan, maar moenie daar bly nie.
In Suid-Afrika se uitdagende ekonomie is dit nie altyd moontlik om te wag vir die “perfekte werk” nie. Baie mense moet vat wat beskikbaar is om ʼn inkomste te verdien en hul voete in die werksmark te kry – en dit is nie verkeerd nie. Die geheim lê daarin om die eerste geleentheid as ʼn trampolien te gebruik, nie as ʼn eindpunt nie.
Selfs al begin jy in ʼn pos wat nie jou volle potensiaal gebruik nie, kan jy steeds groei deur nuwe vaardighede aan te leer, kursusse te doen en mentors te kry wat jou help om te ontwikkel. Dit is juis hierdie ingesteldheid – om te leer, aan te pas en te verbeter, wat maak dat jy mettertyd die ondervinding het wat jou in staat stel om aansoek te doen om hoër poste, meer verantwoordelikhede ens. te kry.
Wanneer jy jou eie ontwikkeling ernstig opneem, help dit jou om:
- • meer mededingend in ʼn mark te wees waar baie werksoekers veg vir min poste;
- • nuwe deure oop te maak, selfs binne jou huidige werkplek; en om
- • beter voorbereid te wees wanneer ekonomiese tye swaar raak, omdat jou vaardighede jou relevant hou.
Loopbaanvoorligting
Solidariteit bied ʼn gratis Belangstellingsbepaler en psigometriese toetse aan vir lede en hul kinders. Hiermee kry jy ʼn beter idee van wat jou sterkpunte is en watter beroepe by jou pas. Hierdie inligting help jou om jou loopbaan doelgerig te beplan eerder as om net op enige werksgeleentheid of loopbaan te mik.
Mentorskap en professionele ontwikkeling
Deur mentorskapprogramme kan jongwerkendes leer by meer ervare kollegas in hul beroep – hoe om hul rol te verstaan, hoe om professionele uitdagings te hanteer, en hoe om hul loopbaan vorentoe te stoot. Solidariteit het ook netwerke van bedryfsielkundiges wat kan help met loopbaankeuses.
Vaardigheidsontwikkeling
Solidariteit ondersteun opleidingsinstansies soos Sol-Tech, Akademia, die Helpende Hand Opleidingsinstituut en Bo-Karoo Opleiding wat praktiese opleiding in beroepsvaardighede aanbied. Hierdie opleiding is daarop gerig om jongwerkendes gereed te maak vir poste wat vaardighede vereis, waar jy nie net teoretiese kennis aanleer nie. Jy kan ook gebruik maak van Solidariteit se aanlyn leerhulpbronne – gratis vir lede! Hier help Solidariteit jou om relevant te bly in jou beroep deur lewenslange leer.
Ondersteuning deur finansiële hulpbronne
Deur fondse soos die Helpende Hand Studietrust maak Solidariteit dit moontlik vir jongmense om opleiding te ontvang sonder om gehinder te word deur finansiële struikelblokke. Opleiding is dus meer toeganklik. Besoek Solidariteit se aanlyn platform vir die volledige lys van organisasies wat studieondersteuning bied.
Jou pad vorentoe: Stappe wat jy kan neem
Gebruik Solidariteit se loopbaanvoorligtingsdienste vroegtydig – moenie wag totdat jy klaar is met jou skoolloopbaan nie.
Kyk watter vaardighede tans in aanvraag is (bv. tegnologie, IT, bestuur, digitale geletterdheid) en doen kursusse/kort opleiding om daardie vaardighede te kry.
Kry ʼn mentor – vind iemand wat reeds in jou veld werk en wat bereid is om jou onder hul vlerk te neem.
Stel ʼn loopbaanplan op: kort-, medium- en langtermyndoelwitte. Herevalueer daardie plan gereeld en pas aan soos wat jy jou vaardighede, belangstellings en ervaring uitbrei.
Gebruik Solidariteit se Netwerk van Werk en hulpbronne: opleiding, kursusse, finansiële hulp, mentorskap, beroepsnetwerke.
Solidariteit bied meer as net werksgeleenthede aan – ons bied ʼn pad vorentoe. Deur opleiding, mentorskapgeleenthede, loopbaanvoorligting en ondersteuningsfondse help Solidariteit sy lede nie net om geld te verdien nie, maar om vorentoe te beweeg, hul volle potensiaal te bereik en ʼn loopbaan te bou wat uniek is nes jy.
In ʼn arbeidsmark met hoë werkloosheidsyfers soos wat ons nou sien, is dit nie genoeg om net werk te hê nie, maar dit gaan daaroor om altyd vooruit te wil beweeg. Solidariteit staan by jou om daardie pad vol vertroue en vaardigheid te stap. Skep jou gratis profiel en raak betrokke by hierdie unieke gemeenskap – in Afrikaans!