Fotokrediet: Unsplash
Gekopieër
Agoa-skande: Werkers en gesinne betaal nou vir regering se roekeloosheid
Pieter Jordaan
Solidariteit sê Suid-Afrika se uitsluiting van Agoa is ’n ernstige regeringsmislukking waarvoor gewone werkers en hul gesinne nou die prys moet betaal.
Volgens die vakbond het die regering herhaalde waarskuwings verontagsaam en handelsvoordele waarmee sowat 250 000 poste verbind word, op die spel geplaas.
Die reaksie volg nadat Suid-Afrika van die lys van lande verwyder is wat ingevolge die Agoa-wet produkte in verskeie sektore, ter waarde van honderde miljarde rande, tariefvry na die VSA kan uitvoer.
“Die ideologies gekaapte ANC-regering skuld Suid-Afrikaanse werkers ’n verskoning én ’n reddingsplan.
“Mense se inkomste is in die spervuur omdat hulle eie regering politieke en ideologiese voorkeure bo gewone mense se werksekerheid gestel het,” sê Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit.
Kleynhans het die afgelope week met senior amptenare van die Withuis en die Amerikaanse Departement van Buitelandse Sake vergader in ’n laaste poging om Suid-Afrika se Agoa-deelname te help behou.
Solidariteit beywer hom reeds langer as tien jaar vir die behoud van dié handelsvoordele, deur voorleggings aan die eerste Trump- én die Biden-administrasie.
“Ons het alles in ons vermoë gedoen om hierdie uitkoms te probeer voorkom. ’n Vakbond kan egter net soveel doen om handelsvoordele te help red wanneer die regering se eie optrede die behoud daarvan ondermyn.
“Ons het telkens gewaarsku dat die verslegtende verhouding met Amerika werkers duur te staan kan kom,” sê Kleynhans.
Volgens Solidariteit het die regering se hantering van onder meer eiendomsreg, rasvereistes in die ekonomie en sy buitelandse betrekkinge die spanning met Washington verder aangeblaas.
Terwyl Suid-Afrika sy Agoa-voordele verloor, het selfs lande soos Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Mosambiek wel toegang behou nadat hul regerings deur positiewe, doelgerigte skakeling met die VSA gewerk het om hul deelname te verseker.
“Ander regerings het die behoud van hierdie handelsvoordele ’n prioriteit gemaak en hul betrekkinge met Washington dienooreenkomstig bestuur.
“Ons regering moes dieselfde verantwoordelikheid teenoor Suid-Afrikaanse werkers aanvaar het. Diplomatieke keuses het ekonomiese gevolge, en gewone werkers betaal nou die prys,” sê Kleynhans.
Solidariteit het reeds voor die besluit op dringende optrede aangedring. ’n Formele dispuut is onlangs op die vakbond se versoek binne die Regering van Nasionale Eenheid verklaar oor die hantering van die verhouding met die VSA en die bedreiging vir Suid-Afrika se Agoa-deelname.
“Agoa is nie ’n onvoorwaardelike reg nie. Dit bied handelsvoordele aan lande wat aan bepaalde vereistes voldoen. Nie een van hierdie voorwaardes is onredelik nie en die meeste is direk tot voordeel van deelnemende lande.
“Die regering het geweet wat op die spel is, maar het by herhaling konfrontasie bo die herstel van betrekkinge gekies. Werkers het geen beheer oor daardie besluite gehad nie, maar moet nou met die gevolge saamleef.”
Solidariteit beklemtoon dat meer as 500 000 Suid-Afrikaanse poste van handel met die VSA afhanklik is, waarvan sowat 250 000 met Agoa verbind word.
Die verlies van dié voordele bedreig uitvoerders se mededingendheid en plaas verdere druk op werksgeleenthede, verskaffers en gemeenskappe wat van uitvoerbedrywe afhanklik is.
Solidariteit eis dat die regering dringend ’n konkrete plan met duidelike sperdatums voorlê om die skade te beperk en Suid-Afrika se toegang tot Agoa te herstel.
Dit moet regstreekse gesprekke op die hoogste vlak, die aanspreek van die geskilpunte en praktiese ondersteuning aan geraakte uitvoerders en werkers insluit.