Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Agoa-verlies verskerp druk op veral landbou- en vervaardigingbedrywe
Deur Leré Nel
Suid-Afrika is amptelik uit Agoa (Amerikaanse Wet op Groei en Geleenthede in Afrika) geskop – en dit beteken dat daar moontlik baie negatiewe gevolge sal wees vir veral bedrywe soos landbou en vervaardiging.
Só sê Cornelius van Leeuwen, sektororganiseerder van die metaal- en vervaardigingsbedrywe by Solidariteit.
Suid-Afrika se verlies aan Agoa-voordele kan landbou-uitvoerders en vervaardigers se mededingendheid verder verswak, met moontlike gevolge vir belegging in die bedrywe, plaaslike verskaffers en die inkomste van gesinne wat van dié bedrywe afhanklik is.
Solidariteit waarsku al ʼn geruime tyd dat die uitwerking hiervan verder as individuele uitvoerders sal strek. Dit is egter nog te vroeg om die volle omvang van die gevolge, veral vir werksekerheid, te bepaal.
Agoa bied kwalifiserende uitvoerprodukte uit deelnemende Afrika-lande voorkeurtoegang tot die Amerikaanse mark. Die verlies van dié voordele beteken dat die betrokke produkte nie meer dieselfde tariefvoorkeure geniet nie.
Landbou: Risiko’s vir produsente én werknemers
Volgens Pieter Burger, koördineerder van die landbousektor by Solidariteit, is sitrus, wyn, subtropiese vrugte en neute van die vertakkings wat blootgestel is.
Hy verduidelik dat tariewe die pryse van produkte vir Amerikaanse verbruikers kan verhoog, wat moontlik die vraag na Suid-Afrikaanse produkte, en gevolglik uitvoervolumes, kan beïnvloed.
Burger identifiseer hoër uitvoerkoste, laer winsmarges, swakker mededingendheid en die moontlike verlies van markte en kliënte as risiko’s vir produsente.
“Dit kan uiteindelik lei tot laer uitvoerverkope, minder beleggings en moontlik talle werksverliese,” sê hy.
Daar is ook kommer oor permanente en seisoenale plaaswerkers, veral in landelike gemeenskappe waar landbou ʼn belangrike bron van inkomste is.
“Die grootste risiko is dat kwesbare gesinne wat reeds primêr van seisoenale werk afhanklik is, hul enigste bron van inkomste kan verloor.”
Volgens Burger kan ʼn afname in uitvoere ook pakhuise, voedselverwerkers, vervoermaatskappye, koelstore en ander verskaffers raak. Minder bedrywigheid kan hul inkomste en produksie onder druk plaas, met verdere gevolge vir landelike ekonomiese ontwikkeling.
“Alhoewel dit te vroeg is om hierdie impakte te meet, voorspel ons groot skade aan die landboubedryf, en moontlik grootskaalse werksverliese,” sê hy.
Vervaardiging: Verdere druk op ʼn bedryf wat reeds swaar trek
Van Leeuwen sê dat hy veral bekommerd is oor onder meer motor- en onderdelevervaardiging, metaalsmelters en vlekvrye staal-vervaardigers.
Volgens hom verkeer ondernemings in dié sektore reeds onder groot druk. Verdere tariefkoste kan hul posisie verswak, veral aangesien insetkoste hoog bly en meer bestellings nie gewaarborg is nie. Dié omstandighede kan dit ook moeiliker maak om beleggings in plaaslike aanlegte te lok.
“Die uitwerking kan na kleiner ondernemings oorspoel indien groter uitvoerders gedwing word om kostes te besnoei,” verduidelik hy. “Kleiner ondernemings wat produkte of dienste aan groter ondernemings lewer, kan ook geraak word.”
Van Leeuwen beklemtoon egter dat dit nog te vroeg is om die gevolge vir werknemers se werksekerheid, werksure en inkomste te bepaal. Die werklike gevolge van die verlies van Agoa-voordele sal eers later gevoel en duidelik word.
ʼn Brood-en-botter-probleem
Van Leeuwen meen dat die regering al lankal hul bande met die VSA moes verbeter, sodat hierdie situasie vermy kon word.
“Aangesien hulle dit nie gedoen het nie, moet hulle nou op ander oplossings fokus,” sê hy. “Die uitbreiding van uitvoermarkte kan help – asook die instelling van heffings op ingevoerde produkte wat goedkoper verkoop word as wat plaaslike ondernemings dit kan vervaardig.”
Vir Van Leeuwen gaan die kommer uiteindelik oor die gesinne wie se bestaan van dié ondernemings en sektore afhanklik is.
“Dit is as gevolg van die regering se eie nalatigheid dat mense wat geen insette in die besluit gehad het nie, nou moontlik sonder werk en sonder inkomste sal sit. Hierdie is nie ʼn politieke probleem nie. Dis regeringsbesluite wat uiteindelik gaan veroorsaak dat mense nie kos op hul tafels gaan hê nie.”