
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Afrikaanse Onderrig: Hier Om Te Bly
Deur Nico Strydom
Om Afrikaans as onderrigtaal op skool én universiteit te hê, word deur die skoolverlatersklas van 2023 as uiters waardevol geag.
Die leeromgewing wat Afrikaanse skole skep, tesame met moedertaalonderrig, het ‘n positiewe invloed op die prestasie van leerders, en sodanige prestasie skep die geleentheid vir verdere studie, opleiding en indiensneming, het Solidariteit Jeug se jongste Skoolverlatersverslag bevind.
Dié verslag is die derde van sy soort en volg op verslae van 2021 en 2022 – studies wat ook deur Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI) behartig is. Die vorige verslae het uitsluitlik op Gautengse skole gekonsentreer, maar die 2023-verslag is die eerste nasionale verslag wat Solidariteit Jeug kan uitreik.
Die meeste leerders (95,23%) wat aan hierdie studie deelgeneem het, het aangedui dat hulle huistaal Afrikaans is. In totaliteit het 73,22% van die matrikulante aangedui dat hulle positief oor Afrikaanse onderrig voel. Uit die 2 655 leerders wat vanjaar hierdie vraag beantwoord het, het 1 196 (45,05%) leerders aangedui dat hulle baie positief oor Afrikaans as onderrigtaal is, en 748 (28,17%) leerders het aangedui dat hulle positief is. Slegs 1,05% van matrikulante het aangedui dat hulle negatief oor Afrikaans as onderrigtaal voel.
Op ʼn vraag aan die leerders oor of hulle graag in Afrikaans sou wou studeer, het amper 50% van matrikulante wat hierdie vraag beantwoord het, aangedui dat hulle graag in Afrikaans wil studeer. Slegs 29,24% het aangedui dat hulle nie in Afrikaans wil studeer nie, terwyl 22,31% onseker was daaroor.
Vanuit die 958 leerders wat aangedui het dat hulle in Afrikaans wil studeer, het 903 in ‘n opvolgvraag ingevul waarom hulle Afrikaans as onderrigtaal verkies. Deur kodifisering en inhoudsanalise is drie hooftemas geïdentifiseer, naamlik dit is hul huistaal of moedertaal, dit is makliker ten opsigte van begrip en akademie, en dit is hul passie en trots.
Die meeste leerders het aangedui dat hulle in Afrikaans wil studeer omdat dit hulle huistaal of moedertaal is. Ander leerders het ook passievol gereageer en bygevoeg dat dit nie net die taal is wat hulle verstaan en waarin hulle beter leer nie, maar dat hulle ook ‘n gevoel van trots en lojaliteit teenoor die taal en die toekoms van die taal koester.
‘n Groot aantal leerders wat die vraag beantwoord het, het aangedui dat hulle verkies om in Afrikaans te studeer omdat dit vir hulle makliker of meer verstaanbaar is. Hierdie leerders verkies om in Afrikaans te leer omdat dit die taal is waarin hulle konsepte die maklikste verstaan en begryp, en dus beter kan presteer. Hulle wil nie na ‘n ander taal oorskakel en die risiko loop om as gevolg daarvan minder te verstaan en dus swakker te presteer nie.
Die afleiding wat uit hierdie antwoorde gemaak kan word, is dat die leerders wat besluit het dat hulle in Afrikaans wil studeer, duidelik die waarde van moedertaalonderrig besef. Dit is vir hulle vanselfsprekend dat iemand in sy huistaal/moedertaal onderrig moet ontvang en dat hulle dan ná afloop van hul skoolloopbaan verder in hierdie taal hulle opleiding moet ontvang. Hulle besef dat hulle beter sal presteer omdat hulle konsepte en abstrakte begrippe beter sal begryp as dit in hul moedertaal aan hulle verduidelik word. Om werklike begrip te toon, is vir hulle uiters belangrik.
Volgens Johnell van Vollenhoven, onderwysnavorser verbonde aan die SNI, is dit opvallend hoe gewild Afrikaans as onderrigtaal werklik is en dat die leerders die praktiese implikasie daarvan so duidelik verstaan.
“Die rol van Afrikaanse skole in Suid-Afrika is beslis nie uitgedien nie, en die vraag na tersiêre instellings waar Afrikaanssprekende leerders verdere opleiding in Afrikaans kan ontvang, ook nie.”
Lees die volledige verslag hier: http://vorms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2023/09/Skoolverlaterverslag-2023.pdf