
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
AGOA: Solidariteit gryp in om werk te beskerm
Solidariteit is tans besig om samesprekings met diplomate van die VSA te voer om te verseker dat Suid-Afrika nie uit die African Growth and Opportunities Act (AGOA) geskop word nie. Dit volg nadat Suid-Afrika se insluiting by die ooreenkoms in gedrang gebring is ná onlangse aantygings oor wapens wat Suid-Afrika na bewering aan Rusland verskaf het.
Tydens ’n vergadering tussen Amerikaanse diplomate en Solidariteit het die Amerikaners laat blyk dat hulle baie min inligting oor die AGOA-ooreenkoms se impak in Suid-Afrika tot hulle beskikking het. Solidariteit het daarna ’n verslag saamgestel om sodoende die verlangde inligting bekend te maak. In die verslag is onder andere bevind dat Suid-Afrika R178 miljard se uitvoere na die VSA in 2022 gehad het, waarvan 20% voordeel getrek het uit die AGOA-ooreenkoms.
“Dit baie duidelik dat die regerende party Suid-Afrika se verhouding met die VSA, ons naasgrootste handelsvennoot, minag. Dit het ons genoop om namens die mense en ondernemings van Suid-Afrika na die VSA uit te reik. Te veel mense is afhanklik van die inkomste wat hulle uit hierdie ooreenkoms genereer om dit te ignoreer. Die VSA moet weet dat die ANC-regering nie altyd die wil van die mense vergestalt of in hul beste belang optree nie. Die verslag is baie goed in Washington ontvang,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut.
Volgens Du Buisson bied AGOA uiters gunstige handelsterme aan Afrikalande, wat Suid-Afrika insluit. Hy voer verder aan dat die regering se ongeërgde houding oor die AGOA-ooreenkoms ’n vernietigende impak op talle werke en industrieë kan hê, en dat Suid-Afrika nie kan bekostig om daaruit weggelaat te word nie. Die ooreenkoms sal na verwagting in September hernu word en alle tekens dui daarop dat Suid-Afrika weer daarby ingesluit sal word.
“Die voordeel wat Suid-Afrika uit hierdie ooreenkoms trek, is veel groter as die voordeel vir die VSA. Met handel wen alle partye, maar vir Suid-Afrika maak dit die verskil tussen vooruitgang en ondergang. Uitvoere na die VSA voorsien kos op die tafel vir een uit 37 Suid-Afrikaanse gesinne. AGOA sorg tans vir 85 000 werksgeleenthede waarvan baie in uiters kwesbare sektore soos landbou en vervaardiging is. Ons kan nie terugstaan terwyl die regering sy eie politieke agendas bevorder ten koste van die voortbestaan van Suid-Afrikaanse burgers nie. Ons sal aanhou ingryp en optree om werk in Suid-Afrika te beskerm. Ons sal brûe bou waar die regering dit afbreek,” sluit Du Buisson af.
Die verslag kan hier afgelaai word.