loading
Blogs
3 maande gelede
agt-dinge-wat-ons-huis-toe-bring-van-die-vsa-toer-af

Foto Krediet: Solidariteit

Agt dinge wat ons huis toe bring van die VSA-toer af

Deur dr. Dirk Hermann

1. ʼn Nuwe wêreld

Ons keer terug huis toe met ʼn diepgaande besef dat die wêreld verander het. President Trump het ʼn soort revolusie begin. Die momentum van “wokeness” is gestuit, skuldkomplekse word uitgedaag, en daar is weer ruimte vir die konserwatiewe idee. Dit daag Suid-Afrika uit, maar skep ook geleenthede vir ons as ʼn kultuurgemeenskap.

2. ANC-beleid in die ope

Die ANC gebruik al vir lank die Mandela-kapitaal. Daar is ʼn weersin in Amerika in die ANC se binnelandse en buitelandse beleid. Trump se uitvoerende bevel het die ANC se beleid onder die vergrootglas geplaas, nie net in Amerika nie maar ook wêreldwyd. Die Solidariteit Beweging se Washington Memorandum kon dit danksy goeie navorsingstukke beklemtoon. Die ANC kan nie meer wegkruip nie.

3. Druk vir beleidsverandering

Daar is nou meer druk vir beleidsverandering in Suid-Afrika. Dit sluit kwessies soos onteiening, rassewette, Bela en internasionale beleid in. Ons kan verdere druk van die VSA op die SA regering verwag, aangesien hulle die SA regering se beleid as ʼn bedreiging vir hul nasionale sekuriteit beskou. Ons moet ook plaaslik die druk volhou.

4. Bondgenote en vriende

Ons keer terug nadat nuwe bondgenote en vriende gemaak is. Ons bevind ons in die vreemde posisie waar die grootste ekonomie in die wêreld Afrikaners as ʼn soort bondgenoot sien. Dit is betekenisvol. Ons het ook vriende in dinkskrums, die media, en selfs die sakewêreld. Die tyd is dus ryp om verskillende wyses van hulp te aanvaar.

5. ʼn Simpatieke oor vir voortgesette deelname aan Agoa

Daar is ʼn sterk moontlikheid dat Agoa nie voortgesit gaan word nie of dat Suid-Afrika nie meer daaraan gaan mag deelneem nie. Dit is weens die SA regering se buitelandse beleid en die bedreiging van eiendomsreg, wat die voorwaardes vir Agoa verbreek. Agoa bied tariefvoordele aan Afrikalande. Deelname daaraan strek tot voordeel van baie Suid-Afrikaners, maar veral van ons lede in die landbou-, nywerheids- en vervaardigingsektore. Die Solidariteit Beweging het ten minste ʼn simpatieke oor by die Amerikaanse regering gevind om Agoa te red, ondanks teenkanting van die SA regering, en spesifiek die ANC.

6. Erkenning van Afrikaners

President Trump se uitvoerende bevel verleen erkenning aan die Afrikaner as ʼn kultuurgemeenskap. Dit het ook groter positiewe internasionale gevolge. Die Afrikaner word erken, en hierdie keer nie as die muishond van die wêreld nie.

7. Kulturele selfvertroue

Die erkenning van die Afrikaner en die herskikking in die wêreld het Afrikaners se kulturele selfvertroue herstel. Ons kan weer ons kop omhoog hou.

8. Ons sal self

Erkenning, kulturele selfvertroue, nuwe bondgenote en vriende skep ʼn nuwe klimaat vir die Solidariteit Beweging se Ons sal self-plan. Die Trump-administrasie gaan nie dinge vir ons doen nie. Hulle skep ʼn klimaat, maar dit is ons verantwoordelikheid om kulturele infrastruktuur soos skole, opleidingsinstellings, werknetwerke, veiligheidstrukture, maatskaplike strukture, kultuurnetwerke, medianetwerke en vele meer uit te bou. Ons doen dit met wedersydse erkenning vir en gesprekke met ander gemeenskappe.

Ons keer beslis terug in ʼn sterker posisie as voor die uitvoerende bevel.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel