loading
Artikels
1 dag gelede
skokverslag-seb-dwing-sa-ekonomie-op-sy-kniee

Foto Krediet: Solidariteit

Skokverslag: SEB dwing SA ekonomie op sy knieë

ʼn Nuwe verslag lewer vernietigende bewyse dat Suid-Afrika se beleid van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (B-BSEB) ernstige skade aan die land se ekonomie en sy bevolking berokken het – terwyl dit slegs ʼn klein, polities verbonde elite verryk het.

Hierdie verslag is in samewerking tussen die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) en die Vryemarkstigting (FMF) opgestel, en dit dien ook as gevraagde en tydige kritiek op pres. Cyril Ramaphosa se onlangse uitlating dat SEB-beleid nodig is en nié ekonomiese groei in Suid-Afrika belemmer nie.

Volgens die verslag beloop die jaarlikse koste van nakoming van SEB tussen R145 en R290 miljard. Dit verteenwoordig 2% tot 4% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP). Hierdie las op ekonomiese groei lei tot ʼn jaarlikse aftakeling van 1,5% tot 3% in BBP-groei, en tot ʼn jaarlikse verlies van tussen 96 000 en 192 000 werksgeleenthede.

Met verloop van tyd het hierdie impak tot die verlies van sowat 3,8 miljoen werksgeleenthede vir Suid-Afrikaners gelei.

“Hierdie yslike ekonomiese koste is nie bloot die gevolg van nalatigheid of die blote swak toepassing van ʼn plan nie. Dit is doelbewuste regeringsbeleid wat dit veroorsaak,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die SNI, en mede-opsteller van die verslag.

“Dit is irrelevant wanneer iemand dan sê SEB is met goeie bedoelings ingestel. Vandag dien dit as ʼn meganisme om die elite ten koste van ons land se ekonomie en veral sy heel armste burgers te verryk.”

Die verslag dui aan hoe die beleid veral ʼn swaar las op kritieke sektore soos mynbou en finansies plaas, terwyl dit buitelandse belegging afskrik, die vlug van kapitaal aanmoedig en tegnologiese vooruitgang smoor.

Hoewel beperkte vordering in swart eienaarskap en vaardigheidsontwikkeling deur middel van SEB-beleid gemaak is, word hierdie voordele totaal oorskadu deur die slegte gevolge van SEB soos groter ongelykheid, elite-betrokkenheid by staatskaping en ekonomiese stagnasie op ʼn baie groot skaal.

Suid-Afrika het gevolglik ver agter ander middelinkomstelande, waarmee hy voorheen ekonomies vergelykbaar was, geraak. Suid-Afrika se beleid is ook sonder die nodige fokus waarmee ander lande, wat ʼn soortgelyke benadering tot regstelling het, sulke beleid dryf.

Dit maak die verryking van ʼn klein elite moontlik.

Volgens Du Buisson het lande soos Brasilië en die VSA ook besef dat die soort beleid uitgedien geraak het en dit begin uitfaseer.

“Bowendien is regstellendeaksiebeleide in ander lande juis daar om diskriminasie te voorkom, terwyl die beleid in Suid-Afrika eintlik diskriminasie verplig.

“Suid-Afrika moet nou dieselfde weg as die ander lande inslaan en daarvan ontslae raak. SEB het ʼn instrument geword wat ʼn klein, polities verbonde elite bevoordeel en is lankal nie meer ʼn beleid wat ʼn benadeelde samelewing kan bemagtig nie,” sê hy.

Van die belangrikste gevolgtrekkings in die verslag is:

• jaarlikse SEB-nakomingskoste: R145–290 miljard (2–4% van BBP);

• geskatte jaarlikse verlies in BBP-groei as gevolg van SEB: 1,5–3%;

• geskatte jaarlikse verlies aan werksgeleenthede weens SEB: 96 000–192 000 poste;

• totale aantal verlore poste weens SEB tot op hede: ongeveer 3,8 miljoen;

• geen betekenisvolle vordering in die vermindering van stelselmatige ongelykheid nie (Gini-koëffisiënt 0,62);

• Suid-Afrika se internasionale ekonomiese posisie het agteruitgegaan;

• algehele ongelykheid het nie verbeter nie, maar vererger;

• sonder rassewette sou werkloosheid 17% beloop het eerder as wat dit tot 31,9% toegeneem het; en

• sedert 2007 het Suid-Afrika 69% (R5 biljoen) se potensiële ekonomiese groei weens rassewette ingeboet.

Solidariteit verwelkom die druk wat plaaslik en internasionaal op die Suid-Afrikaanse regering toegepas word om van hierdie verwoestende beleid af te sien – veral in ʼn jaar wat Suid-Afrika die gasheerland vir die G20-beraad is.

Saam met hierdie verslag doen Solidariteit ʼn beroep op beleidmakers om die mislukte SEB-beleid onmiddellik af te skaf en om dit met ʼn raamwerk te vervang wat werklike ekonomiese deelname bevorder sonder om ekonomiese groei te belemmer.

Sien die verslag hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel