loading
avatar
Artikels
6 uur gelede
einde-in-sig-vir-die-ngv-solidariteit-wys-op-groeiende-druk-vanuit-die-reg

Foto Krediet: Pexels

Einde in sig vir die NGV? Solidariteit wys op groeiende druk vanuit die reg

Deur Robin-Lee Maré

Almal wag tans om te sien of die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV-wet) hierdie week se hofstryd enigsins gaan oorleef.

Solidariteit is gereed om te keer dat dié onbekostigbare en onuitvoerbare skema sy kloue in Suid-Afrika inslaan, maar die vraag ontstaan of Solidariteit se eie omvangryke hofsaak teen die NGV nog hoegenaamd nodig gaan wees.

Die Konstitusionele Hof hoor vandeesweek eerstens ’n saak aan van die Raad van Gesondheidsfinansierders (BHF), die Suid-Afrikaanse Forum vir Private Praktisyns (SAPPF) en die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid. Die partye daag onder meer die grondwetlikheid van die openbare deelnameproses rondom die NGV-wet uit en voer aan dat die Suid-Afrikaanse publiek nie voldoende geraadpleeg is voordat president Cyril Ramaphosa die wet onderteken het nie.

Die aansoek is gerig teen president Cyril Ramaphosa, die Parlement en die Nasionale Departement van Gesondheid.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser verbonde aan Solidariteit se Navorsingsinstituut, spreek die saak veel groter kwessies aan as bloot prosedurele tegniese punte.

Die staat voer intussen aan die saak is nie ’n grondwetlike geskil nie, maar eerder ’n rasionaliteitskwessie. Die argument vanuit die Nasionale Departement van Gesondheid lui daarom die saak hoort eerder in die gewone howe en nie direk voor die Konstitusionele Hof nie. Indien dié argument slaag, kan die president se besluit om die wet te onderteken steeds later hersien word.

Die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, se regsverteenwoordiger, advokaat Ngwako Maenetje, voer weer aan alle relevante faktore is reeds gedurende die proses oorweeg. Volgens hom maak dit die saak eerder ’n administratiefregtelike of rasionaliteitsgeskil wat eers deur die Hooggeregshof en moontlik die Hoogste Hof van Appèl aangehoor behoort te word, en nie onmiddellik deur die Konstitusionele Hof nie.

Du Buisson meen die inhoud van die staat se eie hofstukke skep egter verdere probleme vir die regering.

“Verskeie partye baseer reeds gedeeltes van hul argumente op antwoorde vanuit die regering se eie stukke. Dit wys net hoe moeilik dit vir die regering raak om die NGV op ’n logiese, uitvoerbare en grondwetlike basis te verdedig,” sê hy.

Hy voeg by dat enige verlies van die regering voor die reg rondom die NGV ’n belangrike oorwinning vir Solidariteit se groter saak teen die NGV sal wees.

“Indien die BHF, SAPPF en die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid suksesvol is, sal dit die einde van die NGV beteken. Selfs indien die hof bevind die grondwetlike argumente eerder rasionaliteitsargumente is, kan dit in Solidariteit se saak beklemtoon word, wat ons saak sal versterk,” sê Du Buisson.

Du Buisson verwys ook na Solidariteit se eie omvangryke hofsaak teen die NGV waar die Pretoriase Hooggeregshof vroeër vanjaar beveel het dat die verdere implementering van die Wet voorlopig op ys geplaas moet word hangende die uitslag van die saak wat tans in die Konstitusionele Hof dien oor president Ramaphosa se besluit om die Wet te onderteken.

Hy wys verder daarop Solidariteit reeds verlede jaar in die Konstitusionele Hof argumente aangevoer het teen die sogenaamde Sertifikaat van Behoefte-bepalings in die NGV-wetgewing – bepalings wat gesondheidspraktisyns en gesondheidsfasiliteite streng sou reguleer. Volgens hom word ’n uitspraak in dié saak binne die volgende paar maande verwag.

“Die hofbevel en die verskillende sake teen die NGV wys die howe besef die erns van die regs- en grondwetlike vrae rondom hierdie wetgewing. Suid-Afrika kan nie bekostig om voort te gaan met beleid wat die gesondheidstelsel verder sal destabiliseer nie. Die NGV moet eerder vroeër as later gestop word,” sluit Du Buisson af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel