Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Solidariteit pak SAPD ná hul rug draai op 19 jaar se ervaring
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit het nóg ʼn belangrike oorwinning namens een van sy lede, Pieter Janse van Rensburg, teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) behaal by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA). Dit nadat daar bevind is die SAPD het onbillike arbeidspraktyk gepleeg tydens ʼn bevorderingsproses binne die eenheid vir kubermisdaadondersoeke.
Die kommissaris, Mayoyo Mngomezulu, het hom sterk uitgespreek teenoor die SAPD se hantering van die proses en het bevind die polisiediens het arbitrêr, onredelik en onbillik opgetree toe Janse van Rensburg vir bevordering oorgeslaan is, ondanks sy 19 jaar se ervaring as invorderingsbeampte vir misdaadintelligensie.
Volgens Andries Herbst, Solidariteit-organiseerder vir die openbare sektor, het die uitspraak weereens die problematiese aard van bevorderingsprosesse binne die SAPD blootgelê.
“Janse van Rensburg sit met 19 jaar se ondervinding. Dit het glad nie sin gemaak hoe iemand met skaars ʼn jaar se ondervinding meer punte as Janse van Rensburg gekry het nie. Die kommissaris het dit ook duidelik in sy uitspraak uitgewys,” sê Herbst.
Die saak handel oor twee bevorderingsposte op kapteinsvlak binne die SAPD se eenheid vir kubermisdaad in die Noord-Kaap. Janse van Rensburg het vir beide poste aansoek gedoen en is vir onderhoude genooi. Vir een van die poste is hy as die beste kandidaat aanbeveel, terwyl hy vir die ander pos tweede geplaas is.
Die Modereringskomitee het egter die aanbevelings omgekeer en ʼn ander kandidaat aangestel, ondanks Janse van Rensburg se uitgebreide ervaring en kwalifikasies.
Tydens die verrigtinge het dit aan die lig gekom Janse van Rensburg het minder punte vir ervaring ontvang as ʼn ander kandidaat met aansienlik minder praktiese blootstelling. Die kommissaris het bevind die SAPD kon nie ʼn geloofwaardige verduideliking hiervoor verskaf nie en dat die proses nie in ooreenstemming met die SAPD se eie Nasionale Instruksie 3 van 2015 plaasgevind het nie.
Mngomezulu het verder bevind die SAPD het versuim om behoorlike rekordhouding van die onderhoudproses te doen, dat die toepassing van die puntestelsel inkonsekwent was en dat die besluitneming nie rasioneel of billik was nie.
In sy uitspraak het die kommissaris beklemtoon die SAPD het nie daarin geslaag om enige redelike of substantiewe rede te verskaf waarom daar van die onderhoudpaneel se aanbeveling afgewyk is nie. Hy het ook verwys na teenstrydighede in die dokumentêre bewyse en die toekenning van punte.
Herbst meen die uitspraak bevestig ʼn groter probleem binne die SAPD.
“Dit is nou al so algemeen dat onderhoudpanele nie regmatig en regverdig optree nie. Die SAPD hou ook nie hierdie paneellede aanspreeklikheid vir hul optrede nie, en tensy dit verander, gaan hierdie soort onregverdigheid aanhou kop uitsteek,” sê Herbst.
Die KVBA het uiteindelik beslis die SAPD het ʼn onbillike arbeidspraktyk gepleeg en gelas Janse van Rensburg moet beskermde bevordering tot die rang van kaptein ontvang, terugwerkend vanaf 1 Desember 2024.
Die SAPD moet nou die verskil in salaris en voordele aan hom uitbetaal, asook om voortaan die vergoeding en voordele verbonde aan die rang van kaptein aan hom betaal.
Herbst sê die uitspraak stuur ʼn duidelike boodskap oor die belangrikheid van billike arbeidspraktyke binne die SAPD.
“Staatsdepartemente staan nie bo hul eie regulasies nie. Werknemers kan geregtigheid kry wanneer prosesse onbillik toegepas word,” sluit hy af.