Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Akademia-regstudente kry ʼn voorsmakie van die hof tydens hoftoer saam met Solidariteit se Regsnetwerk
Leré Nel
Op 17 Maart 2026 het Akademia se regstudente hul geskeurde jeans en tekkies verruil vir hulle beste pakke, dasse en hoë hakke om ʼn toer van die landdroshof in Pretoria saam met die Solidariteit Regsnetwerk mee te maak.
Die Regsnetwerk bied jaarliks só ʼn geleentheid aan Akademia-studente om ʼn voorsmakie te kry van die hoflewe wat vir hulle voorlê.
Hierdie jaar het Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, soos oudergewoonte die studente op ʼn toer van die landdroshof vergesel. Hy het hulle deur die geboue geneem en verduidelik hoe die verskillende prosesse en rolspelers binne die hofstelsel funksioneer.

Tydens dié besoek het studente die geleentheid gehad om verskeie hofsale te betree, te sien waar verskillende sake hanteer word en selfs twee strafhofverhore by te woon. Dit het hulle ʼn eerstehandse blik gegee op hoe hofverrigtinge verloop en hoe die teorie wat hulle in die klas leer, in die praktyk toegepas word.
Die studente – netjies uitgevat in hul beste hofklere – het ook die geleentheid gekry om self in ʼn regte hoflokaal te oefen vir die dag wanneer hulle ʼn kliënt tydens ʼn verhoor moet verteenwoordig. Onder Glas se leiding kon hulle ervaar hoe dit voel om voor die hof te staan en argumente te lewer – ʼn ervaring wat vir baie ʼn opwindende voorsmakie van hul toekomstige loopbaan gebied het.
Ná die afloop van die toer het die studente ook met ʼn landdros gesels en vrae gevra oor die praktiese werklikhede van die regsberoep.

Volgens Emil Glas is hierdie soort praktiese blootstelling ʼn belangrike deel van die Regsnetwerk se doel om jong regslui te ondersteun.
“Die Regsnetwerk is daarop toegespits om die toekoms van die regsberoep te beskerm. Daarvoor moet ons die toekomstige regslui so goed as wat ons kan ondersteun. Hierdie is een van die maniere hoe ons dit doen,” sê hy.
Inisiatiewe soos die hoftoer vorm deel van Solidariteit se breër doel om jong beroepspersone reeds vroeg in hul loopbaan te bemagtig. Deur studente bloot te stel aan praktiese ervarings en hulle in kontak te bring met mense in die beroep, help die Regsnetwerk om die volgende generasie regslui beter voor te berei. Kyk gerus die video van die hoftoer hieronder!