Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Die herstel van trots in vakmanskap
Deur Reon Janse van Rensburg
Vir jare is baie jong Suid-Afrikaners met dieselfde boodskap grootgemaak: as jy suksesvol wil wees, moet jy universiteit toe gaan, ʼn korporatiewe werk kry en agter ʼn lessenaar sit. Ambagte en tegniese beroepe is dus dikwels as die “ander opsie” behandel – iets vir mense wat nie akademies sterk genoeg was nie. Hierdie leuen is vir te lank as soetkoek opgeëet.
Intussen het iets gevaarlik gebeur. Praktiese vaardighede het stadig maar seker status begin verloor. Jong mense is geleer om trots te wees op titels, maar nie noodwendig op werk wat tasbare waarde skep nie.
Hierdie werklikheid daag daardie idee toenemend uit. Suid-Afrika sit vandag met ʼn groeiende tekort aan ambagspersone en tegniese vaardighede, terwyl duisende jong mense met meer tradisionele kwalifikasies steeds sukkel om werk te kry. Ondernemings soek elektrisiëns, sweisers, dieselwerktuigkundiges, loodgieters en tegnici – mense wat infrastruktuur aan die gang hou en werklik iets kan bou of herstel.
Die ironie is dat die land nie net nóg bestuurders en kantoorpersoneel nodig het nie. Ons het mense nodig wat met hul hande kan werk, probleme kan oplos en werklike waarde kan skep. Wanneer die ligte afgaan, ʼn fabriek stilstaan of ʼn waterpomp breek, is dit nie ʼn PowerPoint-aanbieding wat die probleem oplos nie. Dit is vakmanskap.
Tog leef baie jong mense steeds met die idee dat sukses slegs in witboordjie-werk lê; dat praktiese werk “minderwaardig” is. Sosiale media en moderne kultuur versterk dikwels die beeld dat sukses gekoppel is aan glans, status en kantoorlewe, terwyl ambagswerk baie minder sigbaar gemaak word.
Dit is ʼn gevaarlike ingesteldheid vir ʼn land soos Suid-Afrika, want wanneer ʼn samelewing begin neersien op vakmanskap, verloor dit nie net vaardighede nie, maar ook selfstandigheid, trots en uiteindelik ook die vermoë om werklik iets te bou.
Die goeie nuus is dat daar tekens is van verandering. Al hoe meer jong mense begin weer waarde sien in praktiese vaardighede en werk met tasbare resultate. Daar is iets betekenisvol daarin om aan die einde van die dag fisies te kan wys wat jy geskep, herstel of gebou het. In ʼn wêreld waar baie werk al meer digitaal en ontasbaar raak, begin vakmanskap weer vir baie mense betekenis gee.
Instellings soos Sol-Tech speel juis hier ʼn belangrike rol. In plaas daarvan om ambagte as “tweede beste” te behandel, help hulle om trots in vakmanskap te herstel en jong mense voor te berei vir beroepe wat steeds hoog in aanvraag is. Dit gaan nie net oor opleiding nie, maar ook oor die bou van selfvertroue, dissipline en beroepsidentiteit.
Solidariteit se groter fokus op beroepsgemeenskappe en vaardigheidsontwikkeling sluit ook by hierdie benadering aan. In ʼn tyd waar baie mense onseker voel oor hul plek in die arbeidsmark, raak praktiese opleiding en sterk beroepsnetwerke belangriker as ooit.
Hoe bou jy ʼn nasie? Met mense wat trots is op hul werk, hul vaardighede, hul herkoms en hul vermoë om iets van waarde by te dra. ʼn Samelewing kan nie net leef van mense wat vergaderings hou en strategieë bespreek nie. Iemand moet steeds die land bou.
Daarom behoort die gesprek oor ambagte nie een van minderwaardigheid te wees nie, maar van noodsaaklikheid.
Dalk lê die toekoms van die land nie net in nog konferensiekamers en korporatiewe titels nie, maar ook in die herlewing van trots in vakmanskap.