loading
avatar
Artikels
16 uur gelede
5-dinge-wat-elke-student-voor-25-moet-leer

Foto Krediet: Okay Deer

5 dinge wat elke student voor 25 moet leer

Deur Liza Joubert

Jou twintigs is ʼn tyd van groot gebeurtenisse. Dit is die jare waarin jy begin werk, jou eie geld verdien en bestuur, belangrike besluite neem én jou plek in die wêreld probeer vind. Tog voel talle jongmense onvoorbereid vir die “grootmenslewe”. Daarom is dit belangrik om sekere lewens- en werkvaardighede reeds vroeg aan te leer.

Hier is 5 dinge wat elke student voor 25 behoort te weet:

1. Leer hoe om jou geld te bestuur

Een van die grootste foute wat jongmense maak, is om sonder ʼn begroting te leef. Wanneer jy jou eerste salaris kry, is dit maklik om dit impulsief op klere, wegneemetes of ʼn duur motor te spandeer. Die geheim is egter om vroeg reeds slim finansiële gewoontes te bou en bestuur.

Stel ʼn eenvoudige begroting op waarin jy probeer om elke maand iets te spaar – al is dit net ʼn klein bedrag – en vermy onnodige skuld. Moenie kredietkaarte gebruik vir dinge wat jy nie regtig nodig het nie. Finansiële dissipline nou kan jou geweldige stres later spaar. Navorsing wat in dieSouth African Journal of Economic and Management Sciences gepubliseer is, wys dat finansiële geletterdheid ʼn belangrike rol speel in hoe mense skuld, spaargeld en begrotings bestuur.

Solidariteit bied ook verskeie kursusse aan om jong werkendes met finansiële bestuur te help, insluitend kursusse oor begrotings en belasting. Lede van Solidariteit het gratis toegang tot kursusse soos Begroting vir jong werkendes” wat fokus op praktiese begrotingsvaardighede en slimmer bestuur van finansies.

2. Verstaan belasting en administrasie

Niemand berei jou regtig voor vir dinge soos belasting, WVF, en pensioen- en mediese fondse nie. Skielik moet jy vorms invul en met die SAID (dis nou SARS in Engels) werk, en dit kan oorweldigend voel.

Dit is belangrik om vroeg reeds die basiese beginsels van belasting te verstaan. Hou rekord van jou dokumente, leer hoe belastingterugbetalings werk en vra vrae of doen navorsing wanneer jy onseker is. Hoe vroeër jy hierdie vaardighede baasraak, hoe makliker raak jou finansiële lewe. VolgensdieSAIDis dit belangrik dat jong werkendes vroeg reeds belasting en belastingverantwoordelikhede verstaan, aangesien alle werkende Suid-Afrikaners sekere belastingverpligtinge het.

Solidariteit bied ook jaarliks ʼn gratis belastingwebinaar aan om jong werkendes te help om belasting beter te verstaan. Bly ingeskakel op Solidariteit-aanlyn om die jongste inligting rondom die webinaar te ontvang.

3. Kommunikasie maak meer saak as punte

Goeie akademiese resultate is belangrik, maar werkgewers soek ook mense wat professioneel kan kommunikeer. Jy moet kan e-posse skryf, selfversekerd praat, konflik hanteer en met ander mense saamwerk.

Moenie wag totdat jy begin werk om hierdie vaardighede te ontwikkel nie. Neem deel aan studente-aktiwiteite, netwerkgeleenthede of aanbiedings. Leer om professioneel op te tree, selfs op sosiale media.

ʼn Positiewe houding, en goeie mensekennis en vaardighede kan jou dikwels verder neem as net ʼn kwalifikasie alleen.

4. Jy hoef nie alles onmiddellik uit te figure nie

Die meeste jongmense voel hulle moet teen 25 reeds hul hele lewe uitgesorteer hê. Die waarheid is dat die meeste mense steeds leer en groei lank ná hul studies.

Dit is oukei om van rigting te verander, nuwe vaardighede aan te leer of selfs van loopbaan te verander. Fokus eerder daarop om aanpasbaar te wees en voortdurend te leer. Die moderne werkplek verander blitsvinnig, en mense wat bereid is om nuwe vaardighede te ontwikkel, staan reeds ʼn groot tree voor ander.

5. Bou nou reeds aan jou toekoms

Wat jy vandag doen, beïnvloed jou toekoms. Die gewoontes wat jy nou vorm – hoe jy werk, spaar, leer en met mense omgaan – gaan jou later help of terughou.

Begin vroeg om netwerke te bou, werk aan jou CV, leer nuwe vaardighede en wees bereid om geleenthede aan te gryp. Selfs klein stappe maak ʼn verskil oor tyd.

Moenie net daarop fokus om te oorleef as student nie; fokus daarop om ʼn sterk fondament vir jou toekoms te bou. Jou twintigs is nie ʼn tyd om alles perfek te hê nie – dit is ʼn tyd om te leer, te groei en slimmer besluite vir jou toekoms te begin neem.

Solidariteit bied praktiese aanlyn kursusse, loopbaanondersteuning en hulpbronne om jong mense toe te rus met noodsaaklike vaardighede – van belasting en finansies tot kommunikasie en loopbaanontwikkeling.

Registreer dus vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn en pak jou toekoms met selfvertroue aan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel