Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Suid-Afrika se werkloosheidskrisis het ook ʼn vaardigheidskrisis geword
Deur Reon Janse van Rensburg
Suid-Afrika het een van die hoogste werkloosheidskoerse ter wêreld. Miljoene mense soek werk, jong mense stuur CV’s uit sonder enige terugvoer en talle huishoudings leef onder enorme ekonomiese druk. Tog waarsku ondernemings en bedrywe oor iets anders: ʼn groeiende tekort aan kritieke vaardighede.
Dít is die vreemde teenstrydigheid waarmee Suid-Afrika tans gekonfronteer word. Aan die een kant het ons ʼn werkloosheidskrisis; aan die ander kant ʼn vaardigheidskrisis. Werksoekers sukkel om werk te kry, terwyl sekere sektore steeds desperaat op soek is na mense met die regte tegniese, praktiese en beroepspesifieke vaardighede.
Veral ambagte, ingenieurswese, tegniese beroepe en sekere professionele velde ervaar toenemende druk. Suid-Afrika benodig elektrisiëns, sweisers, tegnici, ambagslui, IT-spesialiste en ingenieurs – mense wat infrastruktuur kan bou, probleme kan oplos en die ekonomie aan die gang kan hou (lees hier meer).
Dit is waarom die gesprek oor werk nie meer slegs oor die skep van “meer poste” kan handel nie. Dit moet ook oor vaardigheidsontwikkeling gaan, want ʼn ekonomie kan nie groei as die mense met die nodige kennis en praktiese vermoëns eenvoudig nie beskikbaar is nie.
Vir jare is jong Suid-Afrikaners geleer dat sukses hoofsaaklik deur ʼn tradisionele universiteitsroete bereik word. Intussen geniet praktiese opleiding en beroepsvaardighede dikwels minder erkenning. Die arbeidsmark daag daardie opvatting egter toenemend uit.
Dit beteken ook nie noodwendig dat tradisionele beroepe nie waarde het nie – inteendeel. Hierdie beroepe is steeds relevant. Dit beteken eerder dat jong mense die arbeidsmark met ʼn oop gemoed moet benader en bereid moet wees om vaardighede aan te leer wat werklike geleenthede bied, nie net vir vandag nie, maar ook vir die toekoms.
Al hoe meer werkgewers soek mense wat werklik iets kan doen, nie bloot mense met kwalifikasies op papier nie. Daarom word praktiese opleiding, tegniese vaardighede en voortgesette leer toenemend die belangrike boustene vir ekonomiese groei en werkskepping.
Dit is juis waar Solidariteit ʼn verskil maak. Deur ʼn kultuur van lewenslange leer te bevorder, help Solidariteit werknemers om relevant te bly, nuwe vaardighede te ontwikkel en beter voorbereid te wees vir ʼn arbeidsmark wat voortdurend verander.
Instellings soos Sol-Tech en Akademia vorm deel van hierdie groter poging. Die doel is nie bloot om kwalifikasies toe te ken nie, maar om mense op te lei vir beroepe waarvoor daar ʼn werklike behoefte bestaan.
Vaardigheidsontwikkeling is daarom nie net ʼn ekonomiese kwessie nie, maar ook ʼn gemeenskapskwessie. Wanneer mense nuwe vaardighede aanleer, bou hulle nie net loopbane nie – hulle bou selfstandigheid, waardigheid en uiteindelik ook die vermoë om ander in diens te neem.
Dit is ook waarom Solidariteit toenemend fokus op die ontwikkeling van selfstandige beroepsgemeenskappe, opleidingsinstellings en ondersteuningsnetwerke wat mense help om minder afhanklik van ʼn sukkelende staat te wees.
Solidariteit bied verskeie kursusse vir voortgesette leer aan wat lede gratis kan voltooi. Só word mense toegerus om hul volle potensiaal te bereik en met groter vertroue die arbeidsmark te betree.